Bestuurders vlug toenemend van ongelukstonele

36 ongelukke verlede naweek aangemeld
Ellanie Smit
Die Stadspolisie het hul kommer uitgespreek oor die toenemende aantal bestuurders wat van die toneel vlug ná hulle in ’n ongeluk betrokke was.
Volgens die polisie is 36 ongelukke oor die naweek aangemeld. Terwyl 17 beserings aangemeld is en 11 arrestasies gemaak is vir bestuur onder die invloed van drank, is geen sterftes aangeteken nie.
Superintendent Cillie Kapolo het gesê bestuurders wat van ongelukstonele vlug, gewoonlik lewensverlies, beserings en skade aan beide openbare en private eiendom veroorsaak het.
“Bestuurders moet sekere pligte nakom in die geval van ’n ongeluk en soos voorgeskryf in terme van die Padverkeers- en Vervoerwet. Artikel 78 bepaal dat ’n bestuurder wie se voertuig in ’n ongeluk op ’n openbare pad betrokke was en wat bydra tot lewensverlies, besering of skade aan eiendom of diere, die voertuig onmiddellik tot stilstand moet bring.”
Kapolo het gesê daar word van hulle verwag om die aard en omvang van enige besering wat deur enige persoon opgedoen is, vas te stel en die beseerdes by te staan, indien dit moontlik is om dit te doen.
“Hulle moet ook die aard en omvang van enige skade wat aangerig is vasstel en die naam, adres en besonderhede van die voertuig wat deur hom of haar bestuur word verskaf indien dit vereis word deur enigiemand wat redelike gronde het om daardie inligting te verlang.”
Sy het bygevoeg dat indien ’n bestuurder nie hul besonderhede op die ongelukstoneel kan verskaf nie weens beserings wat opgedoen is, kan hulle die ongeluk binne 24 uur aanmeld en die relevante inligting wat vereis word verskaf.
Alkohol
In baie gevalle vlug bestuurders van die ongelukstoneel weens die vrees vir arrestasie aangesien daar alkohol betrokke kan wees, het Kapolo gesê.
“Dit is egter belangrik om daardie spesifieke bestuurders daaraan te herinner dat hulle skuldigbevinding vir die oortreding van artikel 78 (1) in die gesig kan staar indien dit in ’n hof bewys word dat hulle versuim het om die voertuig te stop, die aard en omvang van beserings wat opgedoen is vas te stel, hulp te verleen of van die toneel te vlug ná die ongeluk.”
Kapolo het bygevoeg dat in geval van dood of besering, die nie nakoming van jou pligte as bestuurder kan lei tot ’n boete van tot N$12 000 of ’n maksimum tronkstraf van drie jaar, of beide.
In die geval van skade aan eiendom of ’n dier, kan ’n bestuurder ’n boete van N$4 000 of tronkstraf van nie meer nie as een jaar in die gesig staar, of beide, indien hulle skuldig bevind word.
“Dieselfde straf geld indien jy daaraan skuldig bevind word dat jy die toneel verlaat het vir enige ander rede as ’n besering wat jou onbevoeg gemaak het om op die toneel te wees, of as jy nie die ongeluk binne 24 uur aangemeld het nie.”