Madisia se drukkuns vandeesmaand uitgestal
#WENuusbrokkies #FNCCMadisia
Die Frans-Namibiese Kultuursentrum (FNCC) bied vanaf Donderdag 22 Junie 'n weeklange uitstalling aan van die plaaslike kunstenaar Josef Madisia se jongste drukwerkkunsprojek.Madisia se werk is hoofsaaklik geïnspireer deur 'n innerlike kreatiewe energie om eenheid en versoening te bewerkstellig en swart identiteit na apartheid te hervorm. Hy noem dat sy kunswerk ook beduidende bydraes gelewer het om weer eienaarskap van die Namibiese kultuur te neem – wat uitgebrei het op die prestasies van sy voorganger, wylen John Muafangejo.
Die openingsgeleentheid begin om 19:00 en 'n begeleide toer van die uitstalling saam met die kunstenaar word op Woensdag 28 Junie om 18:00 aangebied. Die uitstalling sluit op Donderdag 29 Junie. Toegang is gratis.