Alex stap vir die donker

Vir mans, seuns met depressie
Sy boodskap aan mans en seuns wat teen die donker stry is om die "eerste treë" te gee deur met iemand te gesels.
Henriette Lamprecht
’n Jong man van Tsumeb pak die hitte en die grondpaaie kus toe aan om bewusmaking te skep van depressie onder mans. Die 23-jarige Alex Gous wil met sy epiese staptog die boodskap aan mans bring dat dit nie ’n swakheid is om oor jou gevoelens te praat nie en dat dit soveel beter vir jouself en dié om jou is om jou donker te deel.
“Mans moet weet hulle het ook ’n stem en dit maak jou nie ‘minder man’ as jy oor jou gevoelens praat nie. As jy alles binnehou, het dit ’n invloed op jou en dié die naaste aan jou,” sê Alex.
Hyself sukkel nie met depressie nie en hy is gelukkig dat hy met sy ouers oor alles kan gesels. In sy vriendekring gesels hulle ook “onder mekaar” en probeer om ten minste een maal per maand ten minste die wat nie naby is nie, te bel om te hoor hoe dit gaan.
“Ek het besef ons moet meer moeite doen om na mekaar uit te reik.”
Alex se roete van sowat 620 km volg die agterpaaie van Tsumeb tot Otavi met die treinspoorpad, Outjo, Khorixas, Uis, Hentiesbaai tot by sy eindpunt, Swakopmund. Die hoop is dat hy Oukersdag op 24 Desember sy voos voete uiteindelik in die koue seewater kan laat rus.
Alex, wat hom as dieselwerktuigkundige by die Namibiese Instituut vir Mynbou en Tegnologie (Nimt) wil bekwaam verklap die rugsak wat hy tydens sy staptog saam met hom gaan dra, huisves ’n nuwe paar skoene en sokkies, eetgoed soos grondboontjies, water en natuurlik pleisters!
Sy oefenprogram vir die lang tog het ingesluit pa Andries wat hom so “20, 30 km buite die dorp” aflaai en hy moet terugstap.
“Ek het blase so groot soos my duim op my tone gehad!”
Pa Andries is ook sy ondersteuningstelsel met ’n “Safari-kar” wat spesiaal ingerig is waarin hulle kan slaap en rus. Danksy ’n fyn uitgewerkte roete en beplanning is pa en seun ook heeltyd in kontak met mekaar.
“My pa gaan so 5 tot 10 km vooruit ry en wag. As die tyd egter te lank raak waarin ek die afstand sou klaarmaak, draai hy om en kom soek my.”
Alex se avontuur kan gevolg word op Instagram by alexflexg99
of op Facebook onder Alex Gous. Intussen is sy boodskap aan mans en seuns wat teen die donker stry om daardie “eerste treë” te gee deur met iemand te gesels eerder as om alles binne te hou met dikwels dodelike gevolge. – [email protected]