Beursgeleentheid vir jong filmmakers

Aansoeke sluit 14 Julie
Die drie gekose deelnemers sal 'n holistiese program in Zambië volg.
Iréne-Mari van der Walt
“Ons kyk na passie – jy het nie regtig formele opleiding nodig nie. Die kandidate moet egter kan wys hulle is toegewyd aan die beroep.” So het Elzita Beukes, Multichoice Namibië se hoof van korporatiewe sake, oor die Multichoice Talent Factory gesê. Belangstellendes wat entoesiasties is oor die filmbedryf en tussen die ouderdomme van 18 en 30 is, kan tot 14 Julie aansoek doen om deel van dié beursgeleentheid te wees. Drie ontluikende plaaslike talente sal die kans kry om vir ’n jaar in Zambië hul kennis oor die film- en televisiebedryf op te skerp. Beukes meen die jeug in Namibië is entoesiasties oor die plaaslike film- en televisiebedryf. “Daar is jongmense wat musiekvideo’s op selfone opneem. Dit is eers wanneer ons die persoonlike onderhoude voer wat die regte juweelkarakters na vore tree,” sê sy. Die drie gekose deelnemers sal in ’n holistiese program in Zambië volg wat praktiese ervaring en teoretiese klasse kombineer, volgens Beukes Aansoekers word versoek om hul belangstellings uit te lig, maar sy sê hulle sal ook aan produksie blootgestel word. Diegene wat nie aan die Multichoice Talent Factory deelneem nie, kan steeds meestersklasse in verskeie gebiede van film- en televisieproduksie op dié inisiatief se webtuiste vind, het Beukes gesê. Besoek Multichoice se webtuiste onder Multichoice Talent Factory om aansoek te doen of vir meer inligting.