Janie Bay nooi jou uit na ‘die dansvloer’
’n Splinternuwe enkelsnit, Die Dansvloer, uit die Suid-Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer Janie Bay se eie pen het pas die lig gesien.Dié ritmiese popsnit is oorgehaal om die voete te laat jeuk en die dansvloer te laat kook. Die Dansvloer is geïnspireer deur ‘n kennis van Janie se onlangse enkelreis na Europa.
“Ek het van daardie storie inspirasie gekry en sommer ’n vakansieromanse daaroor geskryf,” sê Janie, wat talle treffersnitte agter haar naam het.
Janie is bekend vir liedjies soos Amper Daar, Die Heelal, Jammer en Ek Glo Nog In Jou saam met Danie Reënwolf.
“Ek wou hierdie keer regtig net ’n prettige liedjie skryf en uitreik waarop mense kan dans en dit kan geniet waar ook al hull is. Die doel van die liedjie is om die luisteraar goed te laat voel van kop tot tone en vir ‘n rukkie na ‘n ander wêreld weg te neem.”
Janie glo die liedjie sal aanklank vind by luisteraars wat in die oomblik net wil laat gaan en wil goed voel. “Mens weet nooit, dis hoekom ek voel mens moet net doen wat vir jou reg voel in jou binneste.”
Die musiekvideo vir Die Dansvloer is in die Kaap geskiet en Janie het self aan die stuur van die regie en vervaardiging gestaar. Damian van Reenen het as kinematograaf opgetree. “Hy verstaan my idees en ons albei hou daarvan om buite die boks te dink,” sê Janie.
Janie is reeds twee keer vir ’n Suid-Afrikaanse Musiektoekenning (SAMA) benoem en het ook internasionale musiekpryse ingeoes. Sy het in 2016 by Warner Music South Africa aangesluit, maar is sedert Januarie 2022 ‘n onafhanklike kunstenaar.
Haar musiek is ook te hoor in ’n paar Suid-Afrikaanse rolprente soos Mooirivier en Vir Altyd. Sy het ook haar eie weergawe van die bekende lied, You Are My Sunshine, opgeneem vir die plaaslike lokettreffer, Stroomop. Haar en Danie Reënwolf se treffer Ek Glo Nog In Jou kan ook in Donna-lee Roberts & Ivan Botha se film Beurtkrag gehoor word.
Kyk die video hier: https://www.youtube.com/watch?v=I2sBs1Hh1iw