Pluimvee verbod bring voordele en uitdagings

Ellanie Smit
Ellanie Smit
Die verbod op pluimveeprodukte uit Suid-Afrika en Europa weens ’n uitbreking van voëlgriep het Namibiese produsente in staat gestel om hul pluimveevleisvoorraadvlakke na normaal terug te bring.
Die maandelikse vraag na hoender is sowat 3 000 metrieke ton, waarvan net 1 700 metrieke ton plaaslik geproduseer word. Teen die einde van 2020 het die land ’n toename in die vraag na hoender ervaar weens die hoë pryse van rooivleis, insluitend bees-, skaap- en wildsvleis.
Dit volgens die voorsitter van die Namibië Pluimveeprodusentevereniging, Rene Werner.
Hy het bygevoeg dat ten opsigte van eierproduksie betref, nuwe dagoudkuikens vir lê hoenders van Suid-Afrika en Europa moet wees. “Dit het produsente genoop om weer nuwe verskaffers van Zimbabwe of Zambië te bekom, wat albei duur is. Intussen het stygings in die koste van voer voortgegaan om produsente se insetkoste te vererger.
“Dit het beide hoendervleis- en eierprodusente gedwing om die prys van hul produkte te herevalueer. Verbruikers het ongetwyfeld ook die knyp gevoel,” het hy gesê.
Volgens Werner spreek baie potensiële produsente belangstelling uit om by die bedryf aan te sluit, veral as braaikuikenprodusente. “Om toegang tot markte te kry, bly ’n uitdaging. Daar is ’n maatskappy wat beplan om mobiele slagplase te ontwikkel en aanbied om die hoendervleis by produsente te koop, of alternatiewelik aanbied om namens die produsente te slag.”
Die vereniging het saam met die pluimveebedryf die inisiatief geneem om die Direktoraat Veeartsenydienste te borg en in staat te stel om werklose gegradueerdes van die Universiteit van Namibië in diens te neem met die doel om ekstra hulp aan die land se grense te verskaf om die invoer van pluimveeprodukte te beheer, het hy gesê.
“Ongelukkig is die inisiatief weens logistieke redes van die hand gewys,” het Werner gesê.
Hy het bygevoeg ’n ondersoek na die onwettige invoer van pluimveeprodukte wat in 2019 onderneem is, ook afgehandel is maar word daar nog op die resultate gewag.