Alba maak opslae met ‘Tydbom’

Die jong Suid-Afrikaanse sangeres Alba Vorster is besig om internasionaal opslae te maak met haar opgewekte Engelse popliedjies, maar nou ontplof sy weer op die Afrikaanse musiektoneel met ’n popsnit getiteld “Tydbom”.
“Tydbom” is ’n popliedjie met ’n voetstamp-ritme, maar die diep lirieke deel ’n belangrike boodskap. Die liedjieskrywer Janie Bay het hoofsaaklik die liedjie geskryf, met hulp van Hunter Kennedy. Janie se stem is ook op dié popsnit te hoor.
Die 15-jarige Alba beskryf “Tydbom” as ’n oorwinningslied met ’n sterk boodskap vir luisteraars wat met die lirieke kan vereenselwig.
“Mense in my lewe is al deur hierdie seer situasie waar hulle vasgevang is in ’n verhouding waar die ander persoon herhaaldelik ontrou is, en dan daar kon uitkom. Hopelik kan ‘Tydbom’ die luisteraars wat nog in daardie plek vas sit, die krag gee om daar uit te kom.”
Alba sê sy het self aanklank gevind by die lekker-luister-liedjie en voeg by dat tiener-kunstenaars soos sy daarvan hou om “break-up-liedjies” te sing. Al het sy nie self deur ’n diep liefdesteleurstelling gegaan nie, het van haar vriende dit al beleef.
“Tieners se emosie rondom die onderwerp is dalk nie dieselfde as volwassenes s’n nie, maar dit beïnvloed ons hele bestaan wanneer ons daardeur gaan,” sê Alba.
Alba het vanjaar internasionaal getref met die liedjies “Gone 4 Good” en “For me that’s a no”, wat albei deur die Amerikaanse musiekvervaardiger Manny Mijares geskryf en vervaardig is.
Sy het ’n internasionale platekontrak losgeslaan by Upscale Records nadat Manny haar gesien optree het by die wêreldkampioenskappe vir die uitvoerende kunste in Los Angeles.
Alba beplan om nog Afrikaanse musiek asook internasionale snitte uit te reik en wil in die nuwe jaar by soveel feeste en groot konserte optree as moontlik.
Kyk die video hier: https://www.youtube.com/watch?v=akl2cosBoz8