André Swartz en Coenie de Villiers bied grenslose vermaak
Twee van Suid-Afrika se bekendste musikante, André Schwartz en Coenie de Villiers, span vir die eerste keer kragte saam in die musiekproduksie Grensloos wat einde September ook ’n Namibiese draai kom maak.“Ons dreig al jare lank om iets saam te skep, en ek en André het gewoon besluit dat nóú die tyd is, terwyl ons nog kan,” vertel Coenie.
Hoekom die titel “Grensloos”?
“Ons wou graag iets skep wat oor grense heen strek,” sê André. “Daar is ongelooflike asook minder bekende komposisies uit onder meer Frankryk en Nederland, en dan natuurlik ook uit Suid-Afrika. Ons voer van Coenie en my eie komposisies uit, en ’n hele paar daarvan sal heeltemal nuut wees vir gehore. Ons wou albei ’n vertoning sonder ’n enkele kompromis saamstel – ’n mens weet nie wanneer jy weer die kans kry nie!”
Tydens die vertoning praat die twee kunstenaars ook oor hulle eerste opnames. “En dis vrek lekker om saam te werk – ons moes dit lankal probeer het!”
“Dis ook ’n positiewe vertoning – niemand grens oor sy of haar lot in die lewe nie. Dis ongelooflik om die spektrum van liedere te sien wat juis hierdie boodskap van leef en laat leef oor alle grense weerspieël – nie net die grense tussen lande nie, maar ook die grense tussen mense, geslagte en kulture. Aan die einde van die dag is almal maar net méns ...”
Die debuutvertoning van Grensloos het plaasgevind in stampvol teaters in Suid-Afrika. “Dis lekker om ’n staande ovasie tydens die vertoning te kry,” lag die twee kunstenaars.
Hulle tree as volg op:
• Windhoek: 28 September, NTN Backstage om 20:00. Kaartjies: N$300 via www.webtickets.com.na of Pick ʼn Pay-winkels.
• Outjo: 29 September, Moria Privaatskool om 18:30. Kaartjies: N$150 vir volwassenes en N$100 laerskoolleerlinge, beskikbaar by Moria (067 313054), Anél Holtshauzen by 081 255 0204 (nm) of Onduradio Boekwinkel (067 313 290).
• Swakopmund: 30 September, Namib Primary School Aula om 19:30. Kaartjies: N$280 via www.webtickets.com.na of Pick ʼn Pay-winkels.
Hierdie toer word moontlik gemaak met die ondersteuning van Swanam Versekeringsmakelaars, Indongo Toyota, The Windhoek Luxury Suites, Etotongwe Lodge, Privaatskool Moria, Hansa Hotel, Netwerk en Jolene Nell Consultancy.