ARD en Tanya reik ‘Die Rede’
En ja, hulle is verlief!
Die verhaal van ARD Matthews en Tanya van Graan word gedefinieer deur die noodlot, gedeelde kreatiewe denke en ’n diep verbintenis met mekaar.ARD, ’n ikoniese figuur in Suid-Afrikaanse musiek met n nalatenskap wat oor dekades strek, en Tanya van Graan, ’n bekende aktrise wie se vertolking in die huidige MNET trefferreeks Summertide, die publiek se verbeelding aangegryp het, is meer as ’n kragpaar; hulle is ook artistieke vennote wat ’n betekenisvolle verbintenis in mekaar gevind het.
Die nuwe Afrikaanse enkelsnit “Die Rede” is vandag uitgereik. ARD het die liedjie ’n ruk gelede reeds geskryf, maar nooit daarby uitgekom om dit op te neem nie. Toe hy en Tanya ’n paartjie word, was dit ’n natuurlike gevolg – en hy het haar oortuig om ook saam met hom op die liedjie te sing.
ARD vertel: “‘Die Rede’ simboliseer ’0n diep konneksie tussen my en Tanya. Ek het dit nie destyds geweet nie, maar ek het die liedjie eintlik vir haar geskryf.”
Dit is ook ARD se eerste Afrikaanse liedjie wat dit nog meer opwindend en betekenisvol maak.
Dié glanspaartjie se liefdesreis word gekenmerk deur serendipiteit en betekenisvolle oomblikke. Tanya het die besluit geneem om haar deurslaggewende rol in die gewilde MNET reeks Summertide te aanvaar terwyl sy op ’n spesifieke bankie by Houtbaai-strand gesit het, die einste bankie waar ARD elke oggend sy handdoek los terwyl hy in die yskoue see gaan swem. Klein, dog diepgaande verbintenisse soos hierdie,het die weg gebaan vir hul paaie om te bly kruis op ’n manier wat nie een van hulle kon voorsien het nie. Saadjies van hul vennootskap was oral gesaai, nie net in ’n onmiskenbare liefdesband nie, maar ook as mede-kreatiewe skeppers.
ARD is ’n ikoniese solo kunstenaar en is ook die voorsanger vir die gewilde SA groep Just Jinjer. Min mense weet dat sy pa, Andries Brits, Afrikaans was. ARD het hom eers op 17-jarige ouderdom ontmoet en het ’n wonderlike band met hom gehad, tot Andries se heengaan in 2007.
Tanya se reis van grootskerm na alteljee weerspieël die natuurlike evolusie van haar kunstenaarskap. Sy geniet dit om saam met Ard te leef en te werk. “Ons samewerking is meer as net ’n projek, dit is ’n bewys en ontgunning van ’n liefde wat op die mees opregte en onverwagte maniere floreer. Dis asof ons persoonlike geskiedenisse en hoop vir die toekoms, soomloos in ’n gedeelde kreatiewe visie versmelt.”
Die video vir “Die Rede” was `n spontane verfilming van tyd wat ARD en Tanya saam spandeer, die meeste daarvan terwyl hulle in die motor ry en sing. Tanya vertel: “Dis vir ons ’n organiese keuse, ons is nie net twee sangers wat saamwerk nie, ons is gelukkig saam en ons sing dit vir mekáár.”
Sien die video hier: https://www.youtube.com/watch?v=G3X2FgbRXiI