Arno wonder 'Hoe Gaan Dit'
Die bekroonde Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Arno Carstens keer terug na sy Afrikaanse wortels met sy nuwe enkelsnit “Hoe Gaan Dit”, wat vandag (1 Maart) bekend gestel word.Hierdie liedjie is die eerste snit vanaf Carstens se langverwagte EP “Sewe Sakke Hoop”, wat op 24 Mei uitgereik word.
’n Persoonlike vriend wat landuit is het Carstens geïnspireer om hierdie besonderse liedjie te skryf. “Hoe Gaan Dit” delf in die rou emosies en leemtes wat gelaat word deur vriende wat geëmigreer het. Die gevoel van verlange word raakgevat in die melankoliese melodieë waarin Carsten die redes agter die vriend se vertrek erken, maar tog wel treur oor die afstand wat dit skep.
Arno Carstens is al vir meer as drie dekades een van die mees vooraanstaande kunstenaars op die Suid-Afrikaanse musiektoneel. As voorsanger van die baanbrekers-groep Springbok Nude Girls asook ’n suksesvolle solo kunstenaar, het Carstens oor die jare groot sukses plaaslik, sowel as internasionaal bereik.
Sy indrukwekkende diskografie strek oor 15 albums wat hom, onder andere, verskeie SAMA Musiektoekennings besorg het.
Die “Sewe Sakke Hoop” EP wat in Mei uitgereik word, bied ’n vars perspektief en nuwe stories. Dit handel tematies oor die konstante veranderinge wat ons is die lewe en ons omstandighede ervaar. Hoe om te navigeer met die pendulum wat heen en weer swaai, sodat eindelose hoop op ’n beter toekoms altyd bly voortspruit.
Sien die video hier: https://www.youtube.com/watch?v=YjbDH6xIxwk