Dans saam met Robert in Afrikaans
’n Liefde vir punk-rockmusiek en inspirasie deur alternatiewe musiek word vasgevang in Robert Bolton se splinternuwe enkelsnit, Dans in Afrikaans.Dans in Afrikaans is ’n punk-popsnit uit Robert se eie pen. Hy en Shan Read het die liedjie op die stoep van sy huis in Stellenbosch geskryf. Die liedjie is geïnspireer deur Robert, wat aan die sangkompetisie Die Kontrak 2 deelgeneem het, se liefde vir punk-rock- en alternatiewe musiek en groepe soos Glaskas en Die Heuwels Fantasties.
Dans in Afrikaans is ’n energieke lied en vertel van die sanger se grootste musikale inspirasies. Die klank van die liedjie kan vergelyk word met dié van die internasionale punk-rockgroep Blink 182.
“Ek sing ook oor my ervaring van skool, waar ek nie altyd lekker ingepas het nie omdat ek meer aanklank gevind het by musiek as by sport,” sê Robert oor die tema van die liedjie.
Die ritmiese liedjie is net betyds vir die somermaande wat voorlê en skep ’n interessante agtergrond oor die sanger. “Ek dink die publiek gaan die liedjie baie geniet te danke aan die lekker positiewe energie wat dit skep. As jy goed kan sokkie is dit ook ’n liedjie vir jou om op te skoffel,” sê Robert.
Hy wil graag luisteraars aanmoedig om verskillende genres van Afrikaanse musiek te omhels. “Ek glo dit is ook my verantwoordelikheid as musikant om te ontdek en gebruik te maak van die gapings in ons musiekbedryf waar daar nog nie baie fokus is nie.”
Die musiekvideo vir Dans in Afrikaans is by Padstal in Pretoria verfilm asook in ’n tuisateljee. Die video bestaan uit verskeie elemente, waarvan sy optrede ook deel uitmaak.
Kyk die video hier: https://www.youtube.com/watch?v=8nBaL0vdSmg