Elsjé sing oor gebroke liefde
Afrikaanse sangeres Elsjé weet waaroor ware liefde gaan en hoe om die stukke op te tel ná ’n gebroke liefde, en sing oor dié universele ervaring in haar jongste enkelsnit, Stroom.Stroom is ’n Afrikaanse popliedjie en die jong sangeres het die liedjie saam met gesoute liedjieskrywers Hugo Ludik en Nicholas Jordaan geskryf.
Elsjé sê sy is deur ’n verhouding wat sleg geëindig het en glo Stroom sal hoop skep dat ware liefde bestaan vir luisteraars wat self deur ʼn moeilike tyd gaan.
“Enige verhouding het goeie en moeilike tye maar as hulle fondasie gevestig is sal niks hulle skei nie,” sê Elsjé.
Stroom het ’n positiewe, hoopvolle boodskap met ’n treffende melodie wat die voete behoorlik aan die jeuk en skoffel gaan kry.
Die musiekvideo vir Stroom speel af op ’n plaas naby Roodeplaatdam, waar ’n enkellopende stadsmeisie en haar vriende ’n safari-rit onderneem. Op dié rit vang die toergids eers nie haar oog nie, maar dan word sy flou en droom hoe die toergids al hoe aantrekliker raak hoe nader sy aan hom kom.
Elsjé is al vir byna twee jaar aktief in die musiekbedryf doenig en het voorheen aan ’n legio talent- en sangkompetisies deelgeneem.
“Musiek is my passie, my ontspanning en hoe ek ontsnap van die werklikheid,” sluit sy af.