Gazza, NNSO snoer klanke saam

Yandi Du Plessis
Op 2 en 3 Junie gebeur iets buitengewoons by die Nasionale Teater (NTN) in die hoofstad. Die plaaslike musikant Gazza, wat internasionaal bekendheid verwerf het, en die Namibiese Nasionale Simfonieorkes (NNSO) span saam om ’n verskeidenheid musiekgenres te kombineer. Tydens hierdie eksklusiewe geleentheid sal Gazza – wie se se musiek gedefinieer word as ’n mengsel van verskeie invloede soos kwaito, reggae en hip hop – self op die verhoog te sien wees en sy klanke kombineer met die simfonieorkes se klassieke musiekstukke.
Alexander Fokkens is al jare lank die NNSO se hoofdirigent, en hy bring nou ’n groep talentvolle jong musikante van die Alabama School of Fine Art in die Verenigde State van Amerika saam vir hierdie konsert!
Osmond Owoseb, ’n begaafde Namibiese komponis, speel in die program saam met sy koor Vocal Reflections. Altesaam 120 musikante sal op die verhoog te sien wees, insluitend ’n simfonieorkes, koor, orkes en sangers.
Dit sal ’n deftige geleentheid wees, en gaste word versoek om formeel aan te trek en hulle gereed te maak vir ’n onvergeetlike aand.
Die deure open om 18:00 met ’n spesiale rooitapytgeleentheid met fotograwe, spesiale drankies en heerlike eetgoed (kontantkroeg) voor die vertoning om 20:00 begin.
PROGRAM
*Sibelius met Finlandia
*Musiek van Pirates of the Caribbean
*Musiek van Osmond Owoseb
*Gazza tree saam met die NNSO op
Kaartjies is vooraf beskikbaar by Webtickets Namibia (www.webtickets.com.na) of by enige Pick n Pay-winkel landswyd teen N$280 of N$320 of teen N$330 of N$370 by die deur.