Hannes bring ‘Sielskos’ na Namibië

Sy spontaneïteit, spitsvondigheid en sjarme maak van Hannes van Wyk ’n gewilde en geliefde persoon en by damesbyeenkomste kan jy nie vir ’n beter en meer inspirerende spreker vra nie.
Netwerk, met die ondersteuning van Nammed Mediese Fonds, bring dié gewilde aanbieder en akteur in Oktober na Namibië vir sy motiveringspraatjie, “Sielskos”.
Hi is op 7 Oktober in Windhoek en op 8 Oktober in Walvisbaai.
Die Kwêla-aanbieder kuier weekliks in kykers se sitkamers en is vir jare al ’n bekende gesig op televisie en die verhoog. Ons het Hannes leer ken as Krynauw in Egoli: Plek van Goud en daarna het hy rolle in reekse en flieks ingeryg soos in die destydse gewilde Torings en Manakwalanders. Dan was daar ook reekse soos Vallei van Sluiers, 7de Laan, Bolandmoorde en Die Bijl. Onlangse reekse sluit in Boekklub, Waterfront en DanZ.
Hy het ook al in meer as 40 verhoogproduksies gespeel, waarvan “Sê groete vir ma” wat by elke groot kunstefees in Suid-Afrika voor uitverkoopte sale opgevoer is, beslis ’n hoogtepunt in Hannes se loopbaan.
’n Mens sou dink ’n akteur sou wou hê dat mense hom as akteur moet onthou, maar vir Hannes is dit belangriker dat hy ’n indruk gemaak het deur ’n goeie mens te wees. “Mense moet my onthou omdat ek omgee en omdat ek net myself was.”
Iets vir die familie
In “Sielskos” laat val hy die kollig op die vroue wat sy lewe aangeraak het, of wat hom aangryp en inspireer. Dit is ’n gesprek vol deernis, humor en wysheid wat enige vrou se hart sal verbly. Hy raak aan mense se harte en emosies, maar sorg ook vir lekker lag en humor.
Dit is ’n praatjie vir elke lid van die gesin en elkeen wat ’n ma het, gehad het of sélf ’n ma is; mans en vroue, moet hierdie boodskap hoor.
In Windhoek gesels die immergewilde en pittige Sanet Prinsloo saam oor “regte” kos, terwyl Hannes praat oor dít wat die siele voed.
Elizma Theron, bestuurder van Netwerk, sê dat Netwerk al vir twee jaar probeer om Hannes in Namibië te kry. Reëlings was reeds ver gevorderd vir ’n besoek, en toe kom die pandemie.
“Ons is dus verheug om hom uiteindelik hier te ontvang en sien met groot opgewondenheid uit na sy vertonings. Ons nooi almal om saam te kuier, met die man wat reeds vir almal soos ’n bekende vriend voel.”
Verversings is ingesluit by die N$250-kaartjie, beskikbaar by www.webtickets.com.na of Pick ’nPay-winkels. Nammed-lede kry ’n spesiale 10% afslag op hul kaartjies – ledekaarte moet by ingang gewys word.
Hannes se vertonings in Namibië word geborg deur Nammed Mediese Fonds, Checkers Namibia, Belvedere Boutique Hotel en Flamingo Villas Boutique Hotel. Navrae kan gerig word aan [email protected]