Hugh Lynn is aan die brand!

Gerine Hoff
Hugh Lynn is deesdae meer gereeld op Afrikaanse musiekluisteraars se lippe – en met sy splinternuwe enkelsnit, As Jy Kan Braai, is hy beslis vinnig op pad na al wat ’n lekker-kuier-speellys is.
As Jy Kan Braai is ’n pop-rock liedjie uit Hugh se eie pen. Hy het die liedjie self geskryf, getoonset en vervaardig.
Dié liedjie is geïnspireer deur die verskille tussen ’n stadsjapie en ’n plaasjapie. Die stadsjapie probeer om ’n plaasmeisie te beïndruk met die stappe wat sy neergelê het, maar is onsuksesvol. Aan die einde van die storie het hulle buitendien verlief geraak, verduidelik Hugh die tema van die liedjie.
“Dit is vir my ’n humoristiese onderwerp wat stadsouens mee sal kan vereenselwig,” sê Hugh.
Hugh glo luisteraars sal aanklank vind by die onderwerp van As Jy Kan Braai juis omdat daar soveel stadsjapies ter wêreld is.
“Ek glo mense sal van die storie hou. Dit het ook ’n baie prettige klank en die polsende ritme sal jou lus maak vir dans en ʼn breë glimlag op jou gesig sit,” sê Hugh.
Met die musiekvideo het Hugh besluit om iets anders te doen as wat mense sou verwag. Nykie Pretorius van Op my eish-faam vertolk die vrouehoofrol in die musiekvideo. “Almal wat die liedjie gaan hoor gaan verwag dat ek die stappe suksesvol kan uitvoer, maar dit is toe nie so nie. Ek het besluit om soos die ergste vorm van ʼn stadsjapie voor te kom waarop die meisie in elk geval verlief raak.”
Hy droom daarvan om gereeld ’n treffer uit te reik en dat sy liedjies topspeellyste soos dié van Apple en Spotify sal haal.
As Jy Kan Braai is sy vierde Afrikaanse enkelsnit in 9 maande en in sy onlangse vrystelling is sy vertolking van die treffer Cry To Me, oorspronklik gesing deur Solomon Burke.
Hy het die Afrikaanse musiekindustrie betree met sy enkelsnit Hand Om Die Lyf, gevolg deur My Droommeisie en Tipsy Verby.
Kyk die musiekvideo hier: https://www.youtube.com/watch?v=wxQLsve2M-k