Hugh Lynn raak skoon ‘tipsy verby’

Die sanger en liedjieskrywer Hugh Lynn se splinternuwe enkelsnit Tipsy Verby, is ’n tong-in-die-kies liedjie wat dié musikant se humoristiese kant ten toon stel.
Die inspirasie agter Tipsy Verby is gebore uit Hugh se persoonlike ervarings by sosiale geleenthede saam met vriende en is uit die musikant se eie pen.
“Ek is geneig om baie vinniger as die gewone mens ‘tipsy’ te raak. Ek is nie maatjies met alkohol nie,” lag Hugh. “Die liedjie stel die humoristiese kwaliteit van my geaardheid en persoonlikheid ten toon wat ek graag met die wêreld wil deel.”
Hugh glo hy is nie die enigste “liggewige drinker” ter wêreld nie en sê daarom dat baie mense met die liedjie sal vereenselwig. Die prettige klank van die liedjie sal egter selfs diegene wat nié by die lirieke aanklank vind nie, in ‘n wip vang.
Hy wil graag hê mense moet vir hulle liggewige vriende die liedjie speel sodat hulle hulself in die liedjie kan sien.
Die musiekvideo vir Tipsy Verby is by die Times Square-hotel in Menlyn, Pretoria, geskiet waar daar gebruik gemaak is van ’n VIP Lounge, ’n hotelkamer en ’n hysbak. Die pragtige liggies van The Grove Mall se karnaval in Pretoria-Oos is ook in die video te sien.
Zander de Beer was die kinematograaf en die dansers, Clerece en Carmi, is saam met ’n handjievol vriende en familie wat optree as ekstras, te sien.
Hugh Lynn het reeds op hoërskool begin musiek skryf en het as voorsanger in die skoolkoor en -revue opgetree. Hy het naskool ’n voltydse diploma voltooi en daarna ’n verdere twee jaar voltyds aan ’n B.Sc-graad in klankingenieurswese studeer.
Hy het graad 8 in kitaarteorie voltooi en speel ook die klavier en tromme. Sy studies en sy vermoë om musiek te kan skryf en te toonset het hom in die posisie geplaas om sy eie musiek te vervaardig.
Hy skryf al vir agt jaar lank musiek, maar is nou vier jaar professioneel in die musiekbedryf doenig.
Hugh droom daarvan om op ’n gereelde basis ’n enkelsnit te kan uitreik en wil graag met sy musiekvrystellings gesogte speellyste soos dié van Spotify en Apple haal.
“Om ’n musiekloopbaan te probeer vestig terwyl jy studeer is ’n groot uitdaging, maar ná harde werk word jy beloon. Die bedryf is baie kleiner as wat ek gedink het en almal ken vir almal.”