Jan-Mattys sê ‘Hey!’ vir die skoner geslag.
Die jong Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer Jan-Mattys weet hoe dit voel as die skoner geslag speletjies met sy gevoelens speel, en daarom sing hy daaroor in sy jongste enkelsnit, Hey!Hey! is ’n Afrikaanse popliedjie uit Jan-Mattys se eie pen, in samewerking met Liedjie Plaas en is gebasseer op die sanger se eie ervaring.
“Dit gaan oor ’n persoon by wie jy uitsien om te wees, maar sy gee nie vir jou dieselfde seine nie en speel ‘hard to get’,” verduidelik Jan-Mattys die tema van die liedjie.
Volgens Jan-Mattys ontvang luisteraars reeds die liedjie baie goed. “Ek glo mense geniet die liedjie, want dit is pret en miskien vind hulle waarheid in die lirieke.”
Hey! se boodskap is dat ons nie altyd die lewe so ernstig moet opneem nie en dit geniet vir wat dit is, voeg Jan-Mattys by.
Die musiekvideo vir Hey! word deur die splinternuwe produksiehuis B2Visuals, onder leiding van Ben Badenhorst, behartig. Die konsep van die video skep ’n sterk gemeenskapsgevoel en word op verskillende plekke geskiet.
“Ek het nog nooit so ’n video in Afrikaans gesien nie. Ons probeer met die video vir Hey! iets vars en nuut doen,” verklap Jan-Mattys.
Hey! is sy tweede enkelsnitvrystelling en volg op “Sonsopkoms”, wat baie goed ontvang is op stromingsplatforms. Die video vir “Sonsopkoms” is ook uiters gewild op YouTube.