Kuskoor verower goud
’n Koor van Swakopmund het etlike maande ná sy eerste oefensessie goud by die ATKV Applous-kompetisie in Suid-Afrika verower.Die gekombineerde skoolkoor van die Sekondêre Skool Swakopmund en Coastal Hoërskool – wat ongeveer sewe maande gelede gestig is – het die groot aand die verhoog betree met tradisionele drag van verskeie Namibiese kulture.
Die koor se dirigent, Lucky Vellem, sê hulle het ’n string plaaslike tradisionele liedjies gesing, en het ook James E. Moore se “Irish Blessing” opgevoer.
Die koor kon met die hulp van verskeie borge die verhoog in Pretoria inneem
Vellem het in Julie vanjaar gesê die koor se droom is om aan die Applous-kompetisie deel te neem, maar ’n gebrek aan fondse het dié droom gekniehalter.
“Die kompetisie se standaard was baie hoog,” sê Vellem en voeg by dat elke koor wat meegeding het reeds goud in die streekrondtes van die kompetisie verower het.
“Dit het goed met die kinders gegaan,” sê hy.
Hy het die skoolhoofde van die Sekondêre Skool Swakopmund, Sinvula Sibanga, en Coastal Hoërskool, Calvin Martin vir hul deurlopende ondersteuning bedank.
Vellem sê dit was ’n leerervaring vir hom en die koor.
“Hulle het op tyd gewerk en hulle [die ATKV] was baie professioneel. Talle van die skole in Suid-Afrika het ook musiek as ’n vak en dit is hoekom hulle bietjie voor ons is,” sê hy.
Musiekonderrig en ondersteuning is volgens Vellem noodsaaklik om jong musikante aan te moedig.
“Daar was ouers by die kompetisie wat van ver gekom het om die kinders te ondersteun. Talle ouers besef nie hoe belangrik dit is nie. Wie sê dit kan nie ook ’n loopbaan vir die kind wees nie?”
– [email protected]