Laudika se ‘Lauf’ maak Namibiese debuut

Die kortfilm Lauf wat deur Laudika Hamutenya geskryf en geregisseer is, maak volgende Woensdag (14 September) tydens ’n private vertoning in Windhoek sy buiging.
Die kortfilm is verlede jaar geskiet en is moontlik gemaak deur befondsing van die Baden-Wuerttemberg ministerie van wetenskap, navorsing en kuns, in samewerking met Filmakademie, ’n filmskool in Ludwigsburg, Duitsland.
Die film was reeds by nege feeste te sien; dit is ook benoem as semi-finalis by die Pan African Youth Film and Arts Festival sowel as die Sindhudurg Internasionale Kortfilmfees in Indië.
Die Windhoekse vertoning vind by die Goethe-Instituut plaas.
Laudika is ’n 26-jarige Namibiese filmvervaardiger met ’n baccalaureusgraad in skryf en regie van AFDA in Kaapstad, Suid-Afrika. Hy het reeds meer as 10 draaiboeke geskryf, waarvan agt deur homself geregisseer is. Sy rolprente is in Windhoek, Kaapstad en Ludwigsburg vervaardig.
Ná hy in 2019 gegradueer het, het hy by Hashtag Media aangesluit en werk gedoen met korporatiewe kliënte soos MultiChoice Namibia, Prosperity Health, Paratus en Renaissance Health.
In 2020 het Laudika na Duitsland verhuis vir ’n ses maande lange internasionale uitruilprogram by die filmakademie in Ludwigsburg. “Terwyl ek daar was, het ek ‘Lauf’ geskryf en geregisseer. Die film is in Duitsland, Griekeland, Frankryk, Turkye en Indië vertoon. Dit het ook toekennings vir beste studenterolprente by drie feeste gewen en is in nog drie benoem,” het hy gesê.
In 2021 is v gekrediteer vir die mede-skryf van ‘Stray Flower’, ’n Duitse kortfilm wat in Walvisbaai geskiet is en waarvoor hy ook die assistent-regisseur was.
Op die oomblik is Laudika die kreatiewe regisseur van die ‘dating show’ Kapana Spice wat op YouTube gestroom word.