Lesers reis na Kolmanskop met nuwe roman

Hemel en aarde en ons
’n Weerspannige web van gevoelens weef deur die dorp – begeertes, morele verpligtinge, gekwetste ego's, verwyte, afguns en angs loop kruis en dwars van mens tot mens, snaarstyf en trillend liggeraak.
Dat die dokter wat mynbaas Hans-Peter Kranz aangestel het al die tyd ’n vrou is, het die dorpenaars op Kolmanskop vroeg in die twintigste eeu heeltemal oorhoops. Dokter Alexandra Stackelberg kom om die x-straalmasjien by die diamantmyn te bedryf – hoofsaaklik om diamantdiewe vas te trek. Haar werk lei tot ’n morele dilemma en twee mans ding mee om haar aandag, terwyl oorlogswolke op die horison saampak . . .
Soos Kolmanskop se mense deur die sand sif na diamante, so sif een van hulle later jare deur herinneringe, op soek na sekerheid en die waarheid agter een van hulle se dood.
Hemel en aarde en ons is ’n whodunit met ’n konsepsuele kinkel, ’n verkenning van identiteit, bewussyn, verwording en vergetelheid.
Zirk van den Berg is in Namibië gebore, het grootgeword in Suid-Afrika, en woon nou in Nieu-Seeland. Hy debuteer met ’n kortverhaalbundel, Ekstra dun vir meer gevoel. Sedertdien verskyn verskeie romans in Afrikaans en Engels uit sy pen. Sy roman Ek wens, ek wens is met die WA Hofmeyr-prys asook twee KykNET-Rapportpryse bekroon.
Hemel en aarde en ons (ISBN-13: 9780795802683 en Epub ISBN: 9780795802690) word op 15 Maart vrygestel.