Lieflik en loflik!

Iréne-Mari van der Walt
Derduisende Namibiërs het Saterdag na Windhoek Hoërskool se Vegkop-stadion gestroom vir die terugkeer van Liefde by die Nam-konsert.
Hierdie fees het in Suid-Afrika naam gemaak as Liefde by die Dam en het Saterdag die room van Afrikaanse musiek na die verhoog gebring met iets na almal se smaak.
Nadat hierdie fees verlede jaar ’n reusesukses was, was onder meer Die Piesangskille, Spoegwolf en Francois Van Coke tot Ricus Nel en Robbie Wessels hier te sien saam met twee kunstenaars wat verlede jaar gunstelinge by hierdie fees was, Jack Parow en Early B, wat weer die verhoog aan die brand gekuier het.
Early B het vir Namibiërs ’n voorsmakie gegee van ’n enkelsnit wat nog nie vrygestel is nie en talle kunstenaars het hul liefde vir Namibië met die Namibiese gehoor gedeel.
“Daar is ’n bekoring aan Namibië wat mens nie regtig in woorde kan beskryf nie. As mens ry daar op die soutpaaie tussen Walvisbaai en Henties dan voel 'n mens dit. Dit is net super spesiaal," het Robbie Wessels voor die fees gedeel.
Vir die wat weer ’n smakie wil kry van topgehalte Afrikaanse musiek, is Spoegwolf weer in Aprilmaand in Namibië vir die FNB WIndhoek Woordfees.
- [email protected]