‘’n Credo van die lewe’ vir rooikop-sangeres Nadine Blom

’n Nuwe begin, vars hoop vir die toekoms. Dit is die tema van die gesoute gesoute sangeres, TV persoonlikheid, radio-omroeper en voormalige Mev. Verenigde Nasies (2006) se splinternuwe enkelsnit getiteld Nuwe Liefde.
Met die splinternuwe liedjie vier die rooikop-sangeres 20 jaar in die musiekbedryf. Sedert sy twee dekades op die musiektoneel verskyn het, het sy deurlopend nasionaal steeds opgetree by talle vroueoggende, kerke en skole en het selfs drie jaar gelede ‘n snit getiteld “Lig breek deur” uitgereik.
Nuwe Liefde is saam met Nadine geskryf deur die musikante Janie Bay en Hunter Kennedy van Fokofpolisiekar- en Die Heuwels Fantasties-faam. Nadine het self handjie bygesit met die lirieke van die liedjie en die konsep.
“Om gelukkig te wees is ’n keuse wat begin by dankbaarheid vir wat ’n mens het. Hoop is nie iets wat in die verlede gevind kan word nie, maar in die hede en in die toekoms. Daarom is dit waar jou fokus moet wees,” verduidelik Nadine, wat besluit het dit is tyd om vir haar getroue ondersteuners dankie te sê met ’n splinternuwe vrystelling wat hoop bring.
Nadine beskryf die genre van die liedjie as “sparkle pop”. “Ek dink ons het nou net ‘n nuwe genre ryker geword wat die Afrikaanse musiekbedryf betref!” 
Nuwe Liefde se lirieke spoor mens aan om gesonde besluite te neem vir jouself, goeie keuses te maak, die mooi in jou te leer raaksien en van jou sparkle te deel met ‘n wereld wat dit baie nodig het, sê die rooikop-sangeres.
Nuwe Liefde se lirieke en boodskap is ’n tipe van ‘n credo vir my. Dit som in ’n neutedop op waardeur ek is, maar ook waar ek nou staan in my lewe en wat ek wil hê vir my toekoms.”
Die sangeres, wat vanjaar haar 20ste jaar in die Afrikaanse musiekbedryf vier, glo luisteraars gaan Nuwe Liefde goed ontvang.
“Ek het baie lank gewag voor ek iets nuut uitreik, want ek wou seker maak ek bring kwaliteit na die tafel toe. My storie is een wat gevul is met lig en sprankel, en ek glo dat daardie lig deur my musiek na ander mense toe oorspoel.”
Die musiekvideo vir Nuwe Liefde speel af in die Mustang Sally’s Diner in Pretoria. Die stel van die video verleen 'n unieke visuele element tot die produksie. 'n Sexy Cobra-voertuig is ook geborg vir die verfilming daarvan.
Kyk die video hier: https://www.youtube.com/watch?v=_5YkVB9tWB8