Nadine sing oor wat regte liefde is

As daar een ding is waarvan Nadine Blom seker is, is dit dat elke mens gebore is met die behoefte aan gesonde menslike konneksie en dat liefde van die regte persoon genesingskrag het.
Daarom is dit die boodskap van haar jongste enkelsnit, Dis wat liefde is. Die liedjie is uit haar eie pen, maar die gesoute liedjieskrywers Janie Bay en Hunter Kennedy het saam met haar gewerk aan die liedjie, wat sy beskryf as ʼn “synth sparkle pop”-snit.
Nadine is nie net al vir meer as twee dekades ’n bekende op die Afrikaanse musiektoneel nie, maar is ook bekend as TV persoonlikheid, radio-omroeper en voormalige Mev. Verenigde Nasies (2006).
Dis wat liefde is handel oor die mens se soeke na ’n spesiale iemand in jou lewe.
“Daar is verskillende soorte liefde, die liefde waarna hier verwys word is egter gesonde liefde, onvoorwaardelike, onselfsugtige liefde,” verduidelik Nadine.
Dis wat liefde is se lirieke som liefde soos volg op: “Saam kan ons breek, Saam kan ons hoop, Dis wat liefde is, oe hoe hoe, Dis wat liefde is, Dis die soet en die sout, Dis die warm en die koud, Dis die saam word ons oud, Dis wat liefde is”.
Die liedjie kondig vir die rooikop-sangeres ’n tipe van ’n persoonlike oorwinning aan.
“Ek is nie meer bang vir alleen wees nie, ek is nou oukei met my eie geselskap. Ek soek nie meer iets of iemand om my gelukkig te maak nie, want ek is gelukkig op my eie.”
Die doel van Dis wat liefde is, is om hoop te bring en mense wat al lank die alleenpad stap op te hef met positiewe lirieke en ʼn polsende ritme wat jou spontaan dansvloer toe sal lok.
Die musiekvideo vir Dis wat liefde is, vertel die verhaal van iemand wie se lewe op ’n goeie plek is, wat haar lewe gebou het om haar behoeftes en dit wat sy in glo en wil wees.
“Sy droom so bietjie in haar kop oor die moontlikheid van iemand in haar lewe saam met wie sy spesiale tye kan hê, iemand met wie sy die soet en die sout van die lewe kan deel, maar wonder of daar so iemand sou wees, wat haar hart na waarde sal hanteer, iemand aan wie sy getrou tot die dood sal wil wees,” sê Nadine oor die konsep van die video.
Die video is geskiet op die Damarakloof-landgoed, met wingerde en beeste op die plaas. Nadine noem ook dié kleinhoewe haar huis.
Nadine droom daarvan om vir nog baie jare goeie musiek te skryf, op te neem en te sing vir die Afrikaanse mense. Sy beplan ’n groot jaar vir haar musiekloopbaan. Haar vorige enkelsnit getiteld “Nuwe Liefde” het uiters goed gevaar op Afrikaanse treffersparades. Sy is ook besig om te werk aan haar opvolgenkelsnit.
Kyk die video hier: https://www.youtube.com/watch?v=uR9Rd5cuu-4