Namibië die fokus van nuwe kykNET-reeks

In Namibië is daar verskillende kulture, verskillende kosse met verskillende geure, maar een ding wat almal deel, is die liefde vir ’n goeie ou potjie.
In kykNET se nuwe leefstylprogram, Op pad met my potjie, neem Joalette de Villiers kykers op ’n toer deur Namibië waar sy elke week nuwe geheime van die land se kookkuns ontdek – met ’n driebeenpot in haar hand.
Op pad met my potjie begin op 30 September en in dié reeks ontmoet die kosliefhebber Joalette ’n wye verskeidenheid mense en ervaar hul kultuur deur kos.
Die reeks wys al die plekke wat Joalette besoek vanuit die perspektief van die plaaslike inwoners. In die proses leer sy ook hoe om verskillende gewilde Namibiese disse te maak en te waardeer.
Joalette sê dié projek was ’n wonderlike geleentheid om haar Namibiese medemens beter te leer ken.
“Ek kon sien hoe mense leef; hoe ons almal maar deur dieselfde dinge gaan. Ons is op een of ander manier almal in dieselfde bootjie. En dit was vir my so mooi om te sien hoe ons menswees ons verbind. Ek het met ieder en elke episode se gaste lewenslesse geleer wat ek nie op ’n ander manier sou leer nie,” vertel sy.
In die eerste episode maak Joalette ’n draai in Swakopmund waar sy ’n smullekker hoenderpotjie saam met haar ma, Elizabeth, aanmekaarslaan. Daarna besoek sy en haar vriendin Bianka ’n kleinhoewe in die Namibwoestyn waar hulle ’n pikante varkskenkelpotjie volgens Duitse tradisie maak.
In die tweede episode leer Joalette by Duineveld in die Kalahari hoe om brood te bak met min water. ’n Smullekker biltongpotjie word ook opgedis.
Joalette besoek ook Oshaandja in die Noorde, die plase Twee Rivier naby Rehoboth en Rietkuil naby Gibeon, Walvisbaai en Windhoek. Van die heerlike potjies wat met groot geselligheid gemaak word, is ’n afval-, seekos-, bok- en ’n skaappotjie met souskluitjies.
“Op pad met my potjie gaan oor lekker kultuur, lekker mense en stories en baie lekker kos. Meeste van die disse is nie moeilik om self te maak nie. Kykers kan dus nuwe resepte kry vir verskillende soorte potjies en dit self tuis probeer,” vertel Joalette opgewonde.
Roger Gertze, die besturende direkteur van MultiChoice Namibia, sê: “Ons is geweldig trots op Op pad met my potjie, aangesien dit ons unieke Namibiese tale, kookkuns en landskappe ten toon stel. Dit vertel stories wat ons weet aanklank sal vind by gehore én Namibië na die wêreld sal neem.”
As jy ’n potjiekosliefhebber is of net Namibië en sy mense wil leer ken, skuif op Maandag 30 September om 21:30 nader vir die eerste episode van Op pad met my potjie op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Catch Up en DStv Stream beskikbaar wees.