Namibië se Johnny stel ‘Nuwe Naam’ bekend

Sanger, liedjieskrywer, outeur, TV aanbieder en trotse Namibiër, Johnny Davids, het pas sy splinternuwe liedjie “Nuwe Naam” bekend gestel.
Hierdie liedjie is gebore uit sy getuienis, maar is baie meer as net dit. Na die skryfproses van ses maande aan sy memoíre, getiteld Boytjie, het Johnny besef dat hy, na meer as 40 jaar, uiteindelik “healing” ontvang het.
Met talle voorbeelde in die Bybel waar iemand ’n nuwe naam gekry het, het dit gepaard gegaan met talle nuwe dinge. En dis waar Johnny homself op die oomblik bevind. Op ’n nuwe plek in sy lewe en loopbaan.
Tot die aanslag van die liedjie, wat kraakvars is, kan mens die genesing hoor en voel.
Johnny wil met dié nuwe liedjie ook ander bemoedig wat tans gepooitjie word met uitdagings wat die lewe ons bied, deur te sê dat Jesus aan ons elkeen ’n nuwe uitkoms, ’n nuwe hoop en ’n nuwe toekoms wil gee; ’n nuwe naam!
’n Terugblik
Johnny se loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf het in 2003 begin, toe hy en sy destydse sangmaat, Vivian Molauly die heel eerste Afrikaanse talentkompetisie, Zing!, op KykNet gewen het.
Johnny se loopbaan het van daar vlam gevat. Hy is al vir die afgelope 20 jaar ‘n KykNet aanbieder, met programme soos Kunskafee, Tuine en Tossels, Kollig en Kwêla op sy kerfstok. Hy was ook ’n omroeper by RSG.
In die wêreld van sportkommentaar, het Johnny ook sy merk gemaak en was hy deel van die radio kommentaarspan vir die 2010 FIFA Sokker Wêreldbeker. Behalwe vir sy rol as senior omroeper/regisseur, het hy die sport department bestuur, musiekprogramme vervaardig en kommentaar en verslae van verskeie sportkodes gelewer.
Johnny het in 2011 die SAB Toekenning gewen vir die Beste Sportaanbieder op Radio. Dis toe wat hy die oog en oor van Supersport gevang het, en in 2012 het hy ’n loopbaanskuif gemaak na dié sportkanaal as rugby en krieketkommentator. Digby 200 produksies later en Johnny is tans die mede anker-aanbieder van die gewilde rugby geselsprogram, SuperRugby, en ook ’n senior krieketkommentator by SuperSport.
Dis egter musiek wat Johnny na aan die hart lê. Hy is tans besig met spinternuwe musiek, wat basies sy lewensverhaal opsom. Die nuwe musiek is gebore, nadat hy ’n ruk gelede Boytjie klaar geskryf het. Vandaar sy nuwe enkelsnit wat onlangs die lig gesien het, met nog heelwat nuwe musiek oppad.
"Nuwe Naam" is vanaf Vrydag op Spotify, Apple Music, Deezer, YouTube, Google Play, Tidal en Amazon Music beskikbaar.