Nuwe enkelsnit vir Martin Bester
Die Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer het pas sy nuwe enkelsnit, “Bietjie Asseblief”, vrygestel.Dié liedjie, wat die dinamika van verhoudings en die politiek rondom kuier ondersoek, is ’n samewerking tussen Bester en Pierre Rossouw.
“Bietjie Asseblief” is ’n treffende popliedjie wat die algemene realiteite van verhoudings aanspreek. Dit handel oor die feit dat daar dikwels een persoon in ’n verhouding is, wat meer wil kuier as die ander.
“Ek het maar net besef dat sekere goed in verhoudings meer algemeen is, soos die politiek rondom kuier. Ek dink mense wat al in verhoudings was of is, sal hulself vereenselwig met die liedjie. Partykeer moet jy mooi praat as jy in 'n kuier bui is,” verduidelik Martin tong in die kies.
Die lirieke van “Bietjie Asseblief” fokus op emosie en eerlikheid en die melodie van die enkelsnit is aansteeklik. Martin en Pierre se samewerking het ’n meesterstuk opgelewer wat beide vermaak en betekenis dra.
Bester se musiek het nog altyd ’n manier gehad om mense te raak, en “Bietjie Asseblief” is geen uitsondering nie. Hy sê: “As daar iets is in my liedjies wat vir iemand betekenis dra of jy hou net van die vibe, is ek gelukkig. Solank my musiek jou iets laat voel, oor jouself of oor iemand anders, het ek my doel bereik.”
Rossouw, wat saam met Bester aan die liedjie gewerk het, het ook sy unieke stempel op die liedjie afgedruk, en bring ’n vars en dinamiese element na die musiek, wat “Bietjie Asseblief” nog meer onvergeetlik maak.
Luister “Bietjie Asseblief” hier: https://www.youtube.com/watch?v=7f6Ve1MqWAc