Ons ‘lirieke-boer’ kom kuier op tuisgrond

Yandi Du Plessis
Hy woon deesdae in Europa, maar John Rock Prophet kom kuier binnekort weer in sy vaderland, waar hy onder meer op 25 Mei onder die vaandel van die Windhoek Woordfees by Droombos aan die buitewyke van die hoofstad optree.
Nadat hy in 2016 in Duitsland begin kuier het, het John Rock Prophet in 2020 met sy gesin soontoe getrek. Sedertdien bring hy nog minstens die helfte van die jaar in Afrika deur, wat vanjaar weer die plan is, vertel hy. Hy tree gereeld in Duitsland op en het vanjaar al in Nederland, Suid-Afrika en Namibië op die verhoog verskyn en sal vanjaar ook vir die eerste keer in Mosambiek optree.
Sy nabye toekomsplanne is “musiek, musiek en nog musiek”, vertel John.
Op 2 Junie reik hy saam met ’n ander Suid-Afrikaanse kunstenaar sy eerste countryliedjie getiteld “Silver and Gold” uit wat hy self neergepen het.
“Dis baie lekker in Duitsland, maar in die winters verlang ek na die Namibië-son. Die mense hier is wonderlik, maar ek sukkel nog om my ‘plattelandse mense’ hier te ontmoet.”
Sy nuwe enkelsnit “Nommer Pas” is uit en is klaar gewild.
Eers maak hy van 20 tot 25 Mei ’n draai in Suid-Afrika, waarna hy vir ’n paar dae in sy tuisland gaan wees voordat hy na Duitsland terugkeer. Hy belowe egter hy kom later vanjaar weer terug. Op 2 Junie speel hy by Godenfang in Walvisbaai en die volgende dag by Vintage in Windhoek. “My musiekloopbaan het ’n ander dinamika gekry weens die feit dat ek nou internasionaal optree. Duitsland is baie, baie lekker, maar ek sal altyd terugkom na Namibië, want ek mis die son en ek mis die mense.”
Agtergrond
Sy naam is wel John Rock Prophet, maar hoe ouer hy word, hoe rustiger word sy musiek.
Só het die man wat as Ruan Greeff in Windhoek in 1984 gebore is, in 2019 gesê oor sy album Platteland, wat handel oor die liefde, die lewe en selfgesprekke. Hy bespeel ook verskillende instrumente op die album, insluitend banjo en trekklavier. “Iemand het van John Rock the Prophet gepraat toe ek op skool was (ek was deel van ’n band), en ek het dadelik daarvan gehou, maar eintlik hou ek van alle soorte musiek. Jy kan nou vir my iets van Def Leppard speel en net daarna sal ek na Bach luister.”
John het as kleuter al geweet hy wil musiek maak toe hy ’n konsert van Queen in die Wembley-stadion op televisie gesien het. Hy het sy eerste kitaar op laerskool verdien nadat sy pa belowe het om vir hom ’n kitaar te koop sodra hy sy eerste liedjie kan speel. Op 12 het hy toe ’n vriend se kitaar geleen en die hele aand geoefen. Toe hy sy eie weergawe van “Suikerbos” vir sy pa speel, is hy en sy pa dadelik in hul rooi Ford Cortina musiekwinkel toe. Hy het begin skryf en het nie weer die pen neergesit nie.
Hy het ná skool BA Sielkunde aan die Universiteit van Namibië (Unam) gestudeer, maar later, tydens sy meestersgraad, het hy sy ouers daaraan herinner dat hy vir hulle kleintyd gesê het hy gaan eendag musiek maak.
Hy het ongeveer drie jaar aan die album Platteland gewerk.
“Ek het die liedjies soos wat dit op die album verskyn, beslis reeds in my kop voor die tyd. Dis hoekom ek baie van die instrumente moes inspeel, want ek is allermins ’n gesoute banjo- of trekklavierspeler. Ek het dit leer speel omdat ek daardie klanke wou hê. Ek is kieskeurig wanneer ek ’n album maak.
“Ek glo ’n goeie liedjie is nie vasgevang in ’n genre nie. Dis ook nie noodwendig net van een spesifieke kunstenaar nie. Ek luister musiek wyd en syd.”
John is nie seker of hy ’n geduldige skrywer is nie, maar hy is verslaaf aan liedjies skryf. “’n Mens sukkel met goeie lirieke, daardie lirieke wat iets wil sê. Die tyd kies jou. Jy kan nie noodwendig kies nie. Dis my ervaring. Soms kry jy ’n idee wanneer jy juis nie met jou werk besig is nie. As ’n mens baie moeg is, sukkel ’n mens baie om kreatief te wees. Jy moet vars wees.
“Die pyn en ongemak wat dit verg, is ek bereid om te verduur, want dit maak my gelukkig om oplaas ’n liedjie te skep.”
Hy luister dikwels na musiek wat meer in die gedigvorm kom en sit dit om in kontemporêre folk- en rockmelodieë. Van sy gewildste snitte sluit in 2019 se “Platteland” en “Eerbied en Ydel”, “Mingerhout” in 2021 en “Sing vir my Saggies” wat hy in 2021 saam met die Suid-Afrikaanse kunstenaar Gian Groen uitgereik het. Bron: Netwerk24