Orrelkonsert hierdie Vrydag

Gerine Hoff
Die Suider-Afrikaanse kerk- en konsertorrelistevereniging se Namibiese tak (Sakov-Namibië) bied op 22 September om 19:00 ’n orrelkonsert by die NG Kerk Pionierspark aan.
Bekende orreliste van Suid-Afrika word na dié jaarlikse geleentheid genooi om saam met plaaslike musici op te tree en vanjaar is Dr Isabelle van Rensburg aan die beurt.
Van Rensburg woon in Pretoria waar sy tans orrelis is by die bekende Universiteitsoord-gemeente. Sy bestuur haar eie musiekakademie waar sy orrel-, klavier- en musiekteorielesse aanbied. Sy is internasionaal bekend as ’n orrelis van formaat en is reeds met verskeie toekennings vereer.
Sy was onder andere as wenner aangewys by die ATKV Muziq-kompetisie, die UNISA Music Scholarship Competition, en het ook deelgeneem aan internasionale kompetisies.
Van Rensburg voer onder meer werke op van JS Bach, Theo van Wyk, Rachmaninoff en Boëllmann.
Plaaslike kunstenaars wat aan die program deelneem is Die Camerata sangers wat ’n paar motette voordra asook Hans-Peter Drobisch (fluit), Hermien Coetzee (stem) en Ebbie Becker (orrel).