Oudisies vir nuwe koor komende Vrydag
’n Nuwe jeugkoor – Windhoek Namibia Youth Choir (WNYC) – word vanjaar in die lewe gebring onder leiding van die bekende Namibiese koorleier, Fanie Dorfling.Oudisies word Vrydag (31 Januarie) gehou en is oop vir enige jong sanger van Windhoek. As jy 16 jaar oud word hierdie jaar, of reeds 17 of 18 jaar oud is, kan jy aansoek doen vir ’n kans om saam te sing.
Om ’n oudisie te bespreek, stuur jou naam, van en ouderdom per WhatsApp na 081 127 5465 en ’n oudisietyd sal vir jou gestuur word. Berei ’n lied van jou eie keuse en een wat jou stem die beste pas, voor.
“As ’n lid van die koor sal jy die ongelooflike krag van musiek ontdek. Jy sal jouself leer ken en ook hoe om in ’n span bestaande uit baie taal- en kultuurgroepe, saam te werk en sing vir ’n gemeenskaplike doel,” sê Dorfling.
“Koorsang is nie net oor stemme wat harmoniseer nie: Dit bou ’n goeie selfbeeld en dissipline, en jy word deel van ’n groep mense wat later soos familie voel. Jy gaan verseker lewenslange vriendskappe maak!”
Voorts, as deel van die WNYC-koor, sal jy jou stem ontwikkel en nuwe stemvaardighede aanleer onder die leiding van ’n kenner op die vakgebied.
“Koorlede leer hoe om saam te werk met hulle ouderdomsgenote en hoe om met selfvertroue voor gehore op te tree,” sê Dorfling. Hy voeg by: “Navorsing bewys dat om in ’n koor van hierdie formaat te sing, lei tot emosionele gesondheid en stres verminder. So, nie net sal dit lekker wees om in die WNYC te sing nie, dis ook goed vir jou siel en gesondheid!”
Fanie Dorfling (Mmus van Nelson Mandela Universiteit) dirigeer reeds die afgelope 30 jaar kore en het Namibië met verskeie van sy kore op die hoogste vlak verteenwoordig. Mees noemenswaardig is dat een van sy vorige kore as wêreldkampioenne gekroon is in hul afdeling tydens die 2018 Wêreldkoorspele.