Penne wikkel vir ‘hekelwoorde’

Iréne-Mari van der Walt
Ses senior burgers by die Oude Rust-aftreeoord in die hoofstad gaan môreoggend die gaste wat die skrywer Tania Smit se Hekelwoorde-geleentheid bywoon, bederf.
Brigitte Honsbein (79), Hannetjie van Rensburg (79), Sarita Grobler (77), Connie Tietz (80), Marian Steenkamp (60) en Sandra van Rooyen het gesorg dat elke gas ’n gehekelde boekmerk by die geleentheid ontvang.
Tannie Brigitte sê in haar jongdae kon sy nie hekel onder die knie kry nie, maar sy was vasbeslote om te leer.
“Op skool moes ons potlappe en vatlappies brei en hekel en toe ons dit ingee, het die onderwyser myne opgetel en gesê: ‘Kyk, iemand het ’n poprokkie gemaak’,” sê sy.
Sy onthou sy het by die huis in die tuin gaan sit en haar poprokkie in ’n vatlappie omskep en die volgende dag na haar onderwyser toe geneem.
Tannie Brigitte sê: “Ons is só grootgemaak dat jy nie net eenvoudig ’n leë bak teruggee of net sê dankie nie – jy gee handwerk as ’n geskenk om dankie te sê.”
Die hekelgogga het vir Tannie Hannetjie gebyt toe sy die nagskof as ’n verpleegster gewerk het.
“My vriendin het gehekel en my geleer. Dit hou mens nogal wakker,” sê sy.
Tannie Sarita vertel van haar kosbaarste besittings.
“Ek het nog van die goed wat my ma gehekel het. . . ek sou dit nooit so kon hekel nie. Dit is vir my ’n deel van die verlede,” sê sy.
Tannie Brigitte glo dit is belangrik dat handwerk weer in skole aangebied word.
“Dit stimuleer jou brein. . . dit is hoekom daar so baie werklose mense is, want hulle kan hulself nie help nie. Hande wat besig is, soek vir ander werk om te doen,” sê sy.
“Handwerk het in ’n stadium begin uitsterf, maar nou is dit weer ’n inding,” sê Tannie Hannetjie.
Die flukse vroue hekel nie net boekmerke nie, hulle sit ook gereeld hand by met verskeie gemeenskapsprojekte wat die ouetehuis van stapel stuur. Die projekte verskaf gebreide en gehekelde kledingstukke aan kinders met kanker, inwoners van plakkerskampe en weeskinders.
Tania en die hekelwoorde van haar hart is môre deel van ’n intieme damesfunksie van die Windhoek Woordfees in die magiese Droombos se Rooi Saal om 09:30. ’n Beperkte aantal kaartjies is beskikbaar op https://eticket.my.na/.
[email protected]