Perdekrag ’n voorvereiste vir plaasmeisie Rita Li

Perdekrag is ’n komiese Afrikaanse popliedjie reg uit die Suid-Afrikaanse blondekop-sangeres en aktrise Rita Li se kraal en maak die vergelyking tussen spiere en maniere!
Rita Li se nuwe tong-in-die-kies-somertreffer is geskryf deur Hugo Ludik en Nicholas Jordaan en vergelyk die perdekrag van die immergewilde Datsun-bakkie met ’n hedendaagse, enig-in-sy-soort Ford.
“’n Paar sterk manne en natuurlik ’n blinkvosperd of twee. Jy sien, ek het by my Mamma aangeklop vir raad oor die lewe en keuses wat ek sou moes maak en sy het voorgestel dat ek vir ‘perdekrag’ moet soek,” verduidelik Rita Li die lekker-lag lirieke van die liedjie.
Rita Li is ’n plaasmeisie wat goed perdry en die term perdekrag is glad nie onbekend aan haar nie. Sy verklap haar eie eerste voertuig was ’n bakkie. “Nie ’n studentemotortjie soos meeste meisies nie!”
Perdekrag is ’n sokkie treffer wat luisteraars sal laat saam sing, saam dans en ligte oomblikke deel.
Die musiekvideo speel af by die Inanda Country and Polo Club in Sandton, Johannesburg. Die akteurs sluit in Rita Li, Tannie Matie van Graan en selfs ’n paar gespierde polo perde.
“Die video is beslis ’n eerste in sy soort, want ek ken nie ’n ander kunstenaar wat kan polo speel én sing op ’n perd se rug nie,” verklap Rita Li.
Kyk video hier: https://www.youtube.com/watch?v=gJ20Tk_3mPw