Plaasmeisie bring stadsjapie-kêrel huis toe
Die jong Suid-Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer Alida Lief se nuwe uitreiking, Boerecountry, skets ’n prentjie oor al die dinge waarvan Suider-Afrikaanse boere hou teen die agtergrond van ’n plaasmeisie wat haar stadsjapie-kêrel huis toe vat.In Boerecountry, wat deur Alida, Murray Lubbe en Richann Brüssow van Reën-faam geskryf is, vertel Alida die verhaal van ’n plaasmeisie wat vir haar stadsjapie-kêrel verduidelik hoe dinge werk op die plaas.
Dié saamsing-liedjie is in ’n ligte trant geskryf met die doel om iets te skep waarby luisteraars sal aanklank vind. “Ongeag of jy regtig op ’n plaas of in die stad woon, as jy Afrikaans is, is jy ’n boer in jou hart,” verduidelik Alida.
Sy bieg sy het nie voorheen gedink sy sou iets soos Boerecountry sing nie, maar is sy opgewonde om met haar jongste uitreiking uit haar gemaksone te klim.
Alida droom daarvan om te groei as kunstenaar en aan te hou sing om haar droom te kan uitleef. “Ek hoop om mense daardeur te inspireer om ook hulle eie drome na te jag.”