Prop gee nuwe lewe aan nostalgiese Al Debbo-treffer

Die sanger en liedjieskrywer Prop het in die Afrikaanse musiekskatkis gedelf en besluit die legendariese Al Debbo se “Hasie Hop” is ’n treffer wat volksbesit is, maar ’n nuwe baadjie kort.
“Hasie Hop” is een van vier liedjies is wat uitgereik word op die kortalbum getiteld Proe Soos Nog, met “Hasie Hop” wat as die eerste enkelsnit beskikbaar gestel word.
Proe Soos Nog bevat vier verskillende snitte, met “Agtien Winters” wat ’n diep nostalgiese lied is wat die voete gaan laat jeuk met ’n traan van vreugde, "Boere Boudjies", "Like Jou Soos Biltong" en laastens “Hasie Hop”.
“Hasie Hop” is oorspronklik deur Nico Carstens en Anton de Waal geskryf, maar Prop, regte naam Jan-Adriaan van Rooyen, het die liedjie verder verwerk en nog lirieke en musiek bygevoeg.
“Hasie Hop” is steeds ’n tong-in-die-kies-liefdesverklaring, maar hierdie keer word daar nog meer satire en moderne pop- en rockabilly-klanke bygevoeg om die hedendaagse luisteraar se ore te prikkel.
“Die liedjie gaan oor die liefde en die verskillende manier waarop mans die skoner geslag probeer vlei,” verduidelik Prop, wat getref het met liedjies soos “Gogga”, “Kwaaitjie” en “Bosveld Vakansie”.