Riaan Grobler inspireer met ‘Vat5’

Die Suid-Afrikaans radio-omroeper en sanger Riaan Grobler, se splinternuwe enkelsnit Vat 5, is spesiaal geskryf ten bate van liefdadigheid.
Dié gewilde sanger is gereeld by liefdadigheidsprojekte betrokke en hierdie keer is alle fondse wat deur Vat 5 gegenereer word ten bate van Solidariteit Helpende Hand. Riaan het dié organisasie, wat dadelik ingestem het dat hy ‘n spesiale lied laat skryf en opneem, genader.
Die liedjie is geskryf deur die bekroonde liedjieskrywer en sanger Rudi Claase en handel oor om mekaar te ondersteun en daar te wees vir mekaar.
Volgens Riaan het hy nie die lied gekies nie, maar het die lied eerder vir hom gekies. “Ek het geweet ek kan met my sangtalent iets terug gee vir die gemeenskap,” sê Riaan, wat ’n hart vir liefdadigheidswerk het.
“Ons vat graag hande, ons vat graag 5 saam met Riaan Grobler en ons ons gemeenskappe graag uit om saam ons ’n verskil te maak,” het Rene Roux, adjunk-uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand, gesê.
Volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, is hulle tema hierdie jaar “Hier’s my Hand”.
“Die Vat 5 video wat ons nou bekend stel sluit baie daarby aan. Dit kom in kort daarop neer, dat ons die hele gemeenskap benodig. Ons gee so bietjie van ons tyd en so bietjie van ons aandag en ons gee so bietjie van ons menswees, ons gee so bietjie van ons gawes , ons gee so bietjie van wie ons is. ’n Gemeenskap tree vorentoe, ’n gemeenskap sê vat 5, hier gaan ons die toekoms tegemoet, nie alleen nie maar saam met mekaar,” verduidelik hy.
Hoewel dit nie ’n liefdesliedjie is nie, is dié goedvoel-snit en saamsing-liedjie ’n oorwurm wat diep in mense se harte sal gaan lê.
“Dit is ‘n inspirerende lied wat jou hoop gee. Die melodie en verwerking laat jou met emosie van hoop,” het Riaan gesê.
Kyk die video hier: https://youtu.be/uIjic83kMzg