SA se Christof van der Berg reik ‘Movie’ uit

Die Suid-Afrikaanse sanger Christof van der Berg het Afrikaanse musiekliefhebbers se harte gesteel met die uitreiking van sy debuut-enkelsnit “Wil jy sien hoe lyk die Hemel” in November 2023. Hierdie geliefde en gesoute kunstenaar het al in meer as 40 lande opgetree, maar hy het onlangs eers musiek in Afrikaans begin skryf en opneem.
Christof is tans op sy familieplaas Witkraal, waar hy werk aan ’n vollengte album en dit is ook onder andere die nuusstories van die verfilming van sy eerste enkelsnit se video deur sy plaaswerkers, wat Christof en Witkraal aan ’n groot nuwe Afrikaanse gehoor bekend gestel het.
Aanhangers kan nou luister na Christof se tweede amptelike enkelsnit, “Movie” wat op Vrydag 15 Maart uitgereik is.
“‘Movie’ is gebore uit persoonlike musikale reise deur die wêreld,” vertel Christof. “Dit het vir my begin as jong pianis op ’n passasierskip. Van die Afrika-kus se vergete stede, na die antieke Viking wêreld van die Skandinawiese lande. Ek het die spontane wêreld van Wes-Europa goed leer ken en myself op talle vrolike eilande bevind. Later Oos-Europa en die ysige koue van Rusland. Die winde van die midde ooste het vir my paaie oopgewaai deur die woestyne van Egipte, Jordanië en die Emirate tot by die mistiek belaaide Indië, waar swerwers van regoor die wêreld stukkies van hulleself kom soek het.
“In Suid-Oos Asië was die warm tropiese nagte gevul met feesvieringe, lanterns en eksotiese kos. In Thailand het ons deur rys-velde gery met motorfietse, verby troppe wilde waterbuffels. In China, Japan en Korea het ons twee deur die strate gewandel en gewonder oor die lewe. Sy het dagboek gehou, ek het liedjies gesoek. Hoe meer plekke, hoe meer raak die vrae en hoe minder belangrik raak antwoorde. As ek gevra word wat my beste herinnering is, dan bly dit sy. Daar is baie, ontelbaar baie, maar nie een kan opweeg met die manier hoe sy die sterre kon laat lag nie.”
“Movie” se video is op Witkraal geskiet. Die liedjie vertel van die lande waardeur Christof as musikant getoer het,
Sien die video hier: https://youtu.be/qbBsq6gqRys?feature=shared