SA se Renaldo spog met nuwe enkelsnit
Die jong, opkomende sanger Renaldo, is so geïnspireer deur die Amerikaanse country-snit Something in the Orange dat hy besluit het om ook die liedjie op te neem en as ’n enkelsnit uit te reik.Something in the Orange is deur Zach Bryan geskryf en oorspronklik deur dié country-ster uitgevoer.
Die country-treffer gaan oor iemand wat nog hoop het op die liefde, maar die ander persoon het eintlik al lankal uit die prentjie verdwyn.
Renaldo sê hy vind aanklank by die manier waarop die storie in die liedjie vertel word. “Die manier hoe die instrumente en die woorde so mooi pas bymekaar en ’n storie vertel is wat ’n mens laat klou aan hierdie liedjie,” sê die sanger wat onlangs in die toptien van die gewilde sangkompetisie Die Kontrak geëindig het.
Die musiekvideo vir Renaldo se sielvolle weergawe van Something in the Orange is geskep om te pas by die storie agter die liedjie.
Die vervaardigers, Brits Films, het gespeel met oranje lig en die tema is spesifiek gekies omdat die lirieke gaan oor verlore liefde.
Renaldo is vroeër vanjaar vir ’n Aitsa-toekenning asook ’n Afri Indie-musiektoekenning benoem vir beste nuweling. Hy was ook die wenner van die Afrikaans Oppi Platteland-sangkompetisie.