Steve roer hartsnare met 'Romy'
Steve Hofmeyr is reg om luisteraars se hartsnare te roer met sy nuutste enkelsnit, ‘Romy’, wat pas vrygestel is.Dié liedjie dateer uit toeka se dae en het weer dieper betekenis by Steve gekry toe sy eie klein prinses, Romy-lee, in sy lewe gekom het.
“Ek onthou hoe ek as kind nie altyd die oorspronklike liedjie, ‘Cindy’, se woorde verstaan het nie. Maar dit kom bitter gou na jou toe sodra jy kinders kry, veral ’n dogter, wat eie aan ons aard, jou eendag sal inruil vir ’n jong minnaar vol beloftes,” het Steve vertel.
Steve het konsertgangers die afgelope ruk reeds bederf met “Romy” en die terugvoer was reeds oorweldigend.
“Dié lied het ’n manier om mammas, pappas, ouma en oupas tjoepstil te los,” het hy bygevoeg.
“En as jy dit hoor en jy is ouer as vyftig, herken jy die deuntjie dadelik. Die seerste lyntjie is ‘En in jou hart se nuwe woning, is my liedjies uit jou drome, dans jy in sy arms van my weg’...”
Volgens Steve het die liedjie ’n betekenis waarvan almal so ietsie verstaan - die liefde vir kinders, hulle weerloosheid en die leë nes-sindroom en wie weet, om later vergeet te word.
Hy vertel laggend dat hy ook so bietjie ballet in die baie spesiale musiekvideo saam met Romy-lee doen.
“Dit het oortuiging gekos, maar Romy-lee het uit eindelik daarin gespeel. Sy doen ballet en ek speel klavier. In werklikheid is die pragtige klavierklanke Rocco de Villiers se handewerk,” het hy vertel.
“Ons het ’n dansskooltjie se ateljee gehuur. Die deernis is miskien die video se krag. My aktrisetjie is pragtig. En dan, die verrassing teen die einde,” het hy bygevoeg.
Dié musiekvideo is ook pas saam met die enkelsnit vrygestel.
Steve doen Steve
Dis ’n lekker bedrywige tyd vir Steve wat tans besig is met sy Mamba-toer en ook volstoom werk aan sy produksie, Steve doen Steve.
Dié produksie bestaan uit ’n massakoor en reuse simfonie-orkes wat saam met Steve, op ’n verhoog van twaalf verdiepings hoog, al sy grootste treffers oor die jare gaan opvoer. Steve doen Steve is die opvolg op Steve doen Beautiful Noise wat in 2023 duisende konsertgangers op een aand na die Voortrekkermonument gelok het.
Vanjaar se produksie vind op Saterdag 27 en Sondag 28 April, by die Voortrekkermonument plaas met ’n feesatmosfeer wat deur die loop van die dag ervaar kan word.
Besoek www.stevedoen.co.za of klik hier: https://bit.ly/SteveDoenSteve2024. Steve vertel die hoogtepunt van sy loopbaan is die lengte daarvan, vol sale, lang toue en lekker geselsies - en die onthou.
Kyk intussen “Romy” se video hier: https://www.youtube.com/watch?v=m3_b88YkGPo&t=2s