Uitstalling verbeeld band tussen generasies, nasies
’n Nuwe multimedia-kunsuitstalling getiteld Be|Longing open vanaand by die galery van die Namibiese Kunstevereniging (NAA) in die hoofstad.Die uitstalling bestaan uit skilderye, video's en musiek van drie generasies se kunstenaars, naamlik Kirsti, Sakari en Matilda Löytty. Die installasies bind ervarings saam om in en tussen Namibië en Finland te woon en te werk.
Oorspronklike skilderye en tekeninge deur wyle Kirsti, Matilda se ouma wat in die 50's en 60's in Namibië gewoon en gewerk het, vorm deel van die uitstalling. Matilda het haar kinderjare in Namibië gewoon en later kunsgebaseerde navorsing vir haar MA-graad in Namibië gedoen. Haar skilderye en video's dien as eweknieë tot Kirsti se kuns.
Die installasies bevat musiek wat gekomponeer en uitgevoer is deur die bekende musikant en komponis dr. Sakari Löytty wat al vir meer as 20 jaar in Namibië woon en werk. Hy het navorsing oor noord-Namibiese tradisionele musiek gedoen en saam met baie plaaslike musikante gewerk.
Almal is welkom om die openingsgeleentheid van Be|Longing by te woon wat om 18:00 vanaand afskop. Sakari Löytty, Aveshe Munyika, Olivia Amupala en ander sal sorg vir lewendige musiek by die geleentheid.