Wêreldbekende koor besoek Namibië

Die wêreldbekende Tygerberg Kinderkoor besoek Namibië in Oktober, met hul konsert wat beloof om die koorhoogtepunt van die jaar te wees en koorliefhebbers mag nie die optrede misloop nie!
Hulle tree op 4 Oktober om 19:00 saam met die Windhoek Children’s Voices op in die NG Kerk Eros. Kaartjies is by die deur beskikbaar teen N$80 vir volwassenes en N$50 vir kinders.
Die koor vier vanjaar hul 50ste bestaansjaar, met Karina Erasmus wat in 2019 as dirigent by Hendrik D Loock oorgeneem het na sy aftrede.
Die Tygerberg Kinderkoor beklee tans die vierde plek op die wêreldranglys van interkultuur vir kinderkore asook die algehele vierde plek van kore.
Die koor tree gereeld met groot sukses op en is een van Suid-Afrika se trotste uitvoerprodukte, en het hulle reeds verskeie belangrike internasionale koorkompetisies gewen. In Julie 2010 is die koor as wêreldkampioen gekroon en het hulle goue medaljes ontvang in die Folklore en in die Gewyde musiek kategorieë tydens die sesde wêreldkoorspele in Shaoxing in China.
In 2012 was die koor tweede en het hulle goud gewen in die kinderkoorafdeling by die sewende wêreldkoorspele in Cincinnati in die VSA. In 2018 het die koor uitstekend gevaar in die tiende Wêreldkoorspele in Tshwane in Suid-Afrika waar hulle deelgeneem het in vier kategorieë. Hier is hulle bekroon as wêreldkampioene in twee kategorieë naamlik die afdelings vir Kinderkore en Musica Sacra. Hulle behaal ook derde plekke in twee verdere kategorieë, naamlik Popkore en Folklore musiek.
Die koor is bekend vir hul ongeëwenaarde legato klank, volwassenheid van klank, musikale krag en dinamiese interpretasie van uiters moeilike werke.
Vir hulle konsert in Windhoek tree hulle saam met die Windhoek Children’s Voices op wat staan onder leiding van die bekende plaaslike dirigent, Fanie Dorfling. Die jong koor het in 2021 tot stand gekom en lewer reeds musiek van goeie gehalte. Die koor sal in November oudisies hou vir 2023. Belangstellende ouers kan Fanie kontak by [email protected]