Werner se Hart se Taal vol treffers

Werner van der Hoven se Afrikaanse debuut-album Hart se Taal is vroeër vanjaar uitgereik.
“Die album is ’n samestelling van nuwe en ou songs wat my liefde vir die Afrikaanse taal verteenwoordig, ’n terugkeer na my wortels na ’n lang tyd in ’n Engelse woestyn,” vertel hy.
Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties en Supra Familias was medeskrywer en vervaardiger en verskeie kunstenaars het saamgewerk aan die album insluitende Ricus Nel, Danny Smoke en Tim Lengfeld. Die album is opgeneem onder leiding van Fred den Hartog by The Nothing Club Studios.
Die debuut-enkelsnit vanaf die album, “Wynland”, is volgens aanhangers reeds’n “cult status liedjie”. Dié gewilde lied is al meer as twee miljoen keer gestroom.
Die tweede enkelsnit “Somer in my keel” saam met Die Heuwels Fantasties draai ook reeds vanaf Desember op trefferlyste. “Hanrie Visagie” het kort daarna gevolg met een van die lekkerste musiekvideos van die jaar met Cindy Swanepoel en Hamilton Wessels in die hoofrolle.
Die vierde enkelsnit vanaf Hart se Taal, “Vuur wat brand”, is tans op radiostasies gehoor.
Oor dié liedjie sê Van der Hoven: “Daar is altyd mense in jou verlede waaroor jy dink en wonder hoe dit met hulle gaan of wat hulle nou doen. ‘Vuur wat Brand’ brei uit op hierdie gedagte. Soms was daar verhoudings in jou verlede wat bloot eenvoudig misverstande was, romanties of platonies. Die skryf van ‘Vuur wat Brand’ was een van daai kere waar die lirieke relatief maklik gekom met Pierre Greeff wat meesterlik bygedra het tot die skryfproses. Dit was soos altyd ’n absolute voorreg om saam met Fred den Hartog te werk wat die produksie van ‘Vuur Wat Brand’ hanteer het.”
Stroom Hart se Taal hier: https://distrokid.com/hyperfollow/wernervanderhoven/hart-se-taal
Vuur wat Brand: https://www.youtube.com/watch?v=xCwnfwPfo10
Wynland: https://www.youtube.com/watch?v=eYQ0Arg-7fY
Somer in My Keel: https://www.youtube.com/watch?v=zEP11Nh4JkE