Wesna pak 'Avontuur' aan

Suid-Afrikaanse sangeres Wesna se splinternuwe enkelsnit, Avontuur, beskryf die lewensreis vol oomblikke saam met ‘n geliefde.
Avontuur is ’n opgewekte popliedjie wat die verhaal vertel van twee persone wat mekaar so goed aanvul en dit maak die avontuur absoluut perfek. Dié enkelsnit is uit Hugo Ludik en Nick Jordaan se pen. “Die begin van ’n nuwe lewe saam,” verduidelik Wesna die inspirasie van die liedjie.
Die sangeres is onlangs met JT getroud en daarom pas die liedjie perfek by die fase waar sy haar tans in haar lewe bevind.
“Dit is nou die beste tyd van my lewe. Hy is die perfekte persoon om elke aand onder die maan te spandeer en die lewensreis aan te durf,” koer Wesna.
Wesna glo luisteraars kan met Avontuur vereenselwig. Vir diegene wat nie op ’n liefdesreis is nie, kan dit ook simboliek wees vir enige ander avontuur wat hulle onlangs onderneem het of beplan.
“Avontuur is ’n breë term wat soveel kan insluit, so ek glo die publiek sal dit goed ontvang,” verduidelik Wesna.
Die oorwurm het ’n voetstampritme wat luisteraars na die dansvloer sal lok. Dit is egter vir Wesna steeds belangrik om liedjies te sing met lirieke wat betekenis het, en juis daarom hoop sy dat Avontuur ’n impak maak op iemand se lewe.
Wesna se droom is om ’n haar passie vir musiek voltyds uit te leef. ’n Nuwe liedjie gaan ook binnekort die lig sien, waaroor sy baie opgewonde is.