The Place skep ’n ‘lekker vibe’
Swakopmund is bekend vir sy aansteeklike vakansiegees en lekker eetplekke, veral hierdie tyd van die jaar.Dié dorp se strate het onlangs ’n opwindende nuwe eetplek verwelkom – The Place.
’n Jong, verloofde paartjie, Johandre van der Post en Edward (Eddy) Viviers, het besluit om hul liefde vir kos uit te brei en ’n unieke restaurant oop te maak wat kan bydra tot die veelsydige kulinêre landskap van Swakopmund.
Met ’n gesellige “pub” en “grill”-atmosfeer, mik The Place om nie net kos-entoesiaste te lok nie, maar ook sport- en musiekliefhebbers.
“Wie wil nie na ’n plek kom met ’n lekker vibe waar hul ook die sport kan kyk nie? En toe sit ons nog live musiek ook by. Ons het alles wat ons van hou, in een plek probeer indruk,” vertel Johandre en voeg by dat hulle mik om elke Vrydag en Saterdag ’n musiekoptrede aan te bied.
Volgens Johandre is die spyskaart belaai met talle heerlike burgers en pizza’s en maak hulle ook vir groepe voorsiening met hul “To Share”-items.
“Wat ons kos spesiaal maak, is ons gebruik vars kruie, vars buns en goeie gehalte vleis. Ons probeer regtig om ons kosgehalte baie hoog te hou en dit is vir ons baie belangrik.
“Die kos en diens is die grootste goed waarop ons fokus.”
Eddy en Johandre werk ook baie nou saam met hul personeel om seker te maak dat elke persoon wat by The Place instap, goeie kos en diens kan ervaar.
“Ons maak elke pattie van scratch af elke keer as daar ’n bestelling inkom. Elke porsie kos wat ons uitstuur, is so vars as moontlik.”
Eddy en Johandre is tans verloof en beplan om in Maart volgende jaar in Mauritius te trou.
“Ons het besluit om weg te hardloop van ons daaglikse chaos. Ons sien elke dag honderde mense en het elke dag met so baie mense te doen. Ons het besluit ons wil iewers ver weg gaan,” vertel Johandre wat ook byvoeg dat hulle wel familie en vriende genooi het en reeds ’n lekker groep mense is vir die troue.
“Ons sien vreeslik baie daarna uit en dit gee ons ook ’n kans om bietjie asem te skep.”
Buiten vir Eddy en Johandre wat mede-eienaars is, het hulle ook twee aandeelhouers wat aktief by die bedrywighede van die restaurant betrokke is.
Gerhard Viviers is een van die aandeelhouers en doen die besigheid se boeke en is veral betrokke by die finansiële kant van die restaurant. Die ander aandeelhouer is Johan Burger wat ook betrokke is by die dag-tot-dag bedrywighede, veral wanneer Eddy of Johandre nie beskikbaar is nie.
The Place het op 30 November amptelik sy deure by 615 Nelson Mandelarylaan oopgemaak en Eddy en Johandre het nog groot drome vir die restaurant, veral omdat die perseel nog baie ruimte het om uit te brei. – [email protected]