Tydsberekening van brandstofstasie-moratorium bevraagteken

Geen nuwe petroleumlisensies – vir eers – uitgereik nie
Ogone Tlhage
Die Fuel and Franchise Association (Fafa) in Namibië sê die besluit wat geneem is om ’n moratorium op die uitreiking van stroomaf petroleumlisensies toe te pas, mag te laat wees om die lewensvatbaarheid van brandstofstasies regoor die land te beskerm.
Die ministerie van myne het gesê geen aansoeke vir nuwe brandstofkleinhandelpersele en groothandellisensies word tot verdere kennisgewing aanvaar nie.
In reaksie op hierdie verwikkeling het Fafa-voorsitter Hennie Kruger gesê die besluit sal help om die ondergang van brandstofstasies in die toekoms te red, maar het bevraagteken of die tydsberekening daarvan op ’n korter termyn sal help.
Volgens Kruger het die vereniging herhaaldelik die ministerie gevra dat geen nuwe stroomaf petroleumlisensies uitgereik word nie, aangesien die volumes in Namibië te laag is vir brandstofstasies om op ’n optimale vlak te funksioneer.
“Op die lang termyn is dit ’n goeie ding. Die vraag is egter of dit nie te min, te laat is nie? Ons het voortdurend aan die ministerie geskryf dat volumes onder druk is. Dit is egter beslis ’n stap in die regte rigting,” het Kruger gesê.
“Hoe lank dit operateurs sal neem om in die kort termyn te herstel, weet ons nie. Dit is iets wat ons sal moet hanteer,” het hy bygevoeg.
Kommer
In die motivering oor hoekom ’n moratorium op die uitreiking van lisensies geplaas is, het die ministerie gesê hy kyk met groot kommer na die situasie van diensstasies.
“Die ministerie het met groot kommer kennis geneem dat beide die brandstofgroot- en kleinhandelmarkte uiters versadig is met lisensies. Hierdie situasie het probleme geskep wat uiteindelik tot hoë brandstofpryse in die land lei,” lui ’n verklaring.
Kruger het ook voorheen gekla oor die hoeveelheid lisensies wat aan die staatsbeheerde oliemaatskappy, die National Petroleum Corporation of Namibia (Namcor), toegestaan is. Hy het hierdie stelling gemaak tydens ’n onderhoud op Namibia Media Holdings se Kletskompas-program.
Hy het gesê ná die ministerie in Maart verlede jaar ’n moratorium op nuwe lisensies vir brandstofverhandeling opgehef het, is 21 of 22 nuwe lisensies toegestaan, waarvan die meerderheid aan Namcor uitgereik is.
Namcor brei sy kleinhandelbedrywighede uit en voeg meer vulstasies by die 12 wat reeds bestaan, om teen 2024 altesame 33 vulstasies landwyd te hê.
“Soveel lisensies vir nuwe vulstasies maak nie sin in ’n mark met dalende volumes nie,” het Kruger gesê. “Hulle skep ’n [volume] tekort,” het hy gesê en bygevoeg dat brandstofstasie-eienaars “tans sukkel. Die fout lê by die reguleerder.”