Klere en skoene teen ’n sakpasprys

Skoene, klere, aandrokke - net wat jy in jou klerekas kortkom, is by Re-Tag It Thrift Shop te vind.
“Ons verkoop tweedehandse klere en skoene (soms ook nuut), so ons ‘hergebruik’ basies klere wat jy voorheen liefgehad het,” vertel Rochelle Mulder.
“Dit was eintlik ’n gedagte wat oornag by my opgekom het, en nou sit ons met ’n groot winkel wat ons nie gedink het gaan hierdie jaar gebeur nie.”
Hier is allerlei klere – van iets vir baba en kleuter tot tiener en volwassenes – op die rakke.
“Ons koop basies klere aan en verkoop dit dan weer,” sê sy. “Dit help dan ook weer om ’n bietjie te ‘recycle’, wat beter is vir die wêreld.”
Die winkel het op 1 April geopen. “Ons het aanvanklik in ons spaarkamer by die huis begin, maar toe het ons meer spasie nodig gehad en nou sit ons met ’n winkel!”
Hoekom is ’n tweedehandse winkel belangrik?
“Ek het regtig nie gedink daar is ’n mark daarvoor nie, of dat dit enigsins ’n sukses sou kon wees nie. Maar toe besef ek daar is ’n groot behoefte hieraan. Mense kan nie meer duur klere bekostig nie, veral mense met meer as een kind en wat dalk hulle werk verloor het. En almal het klere nodig. Hier is dit veel meer bekostigbaar en kan mens darem ietsie vir jou kind koop vir die winter. Waar ons aankoop, help ons ook mense wat sukkel, wat dalk ’n geldjie nodig het vir ’n brood of iets moet betaal. So, baie mense by wie ek koop is mense wat dringend geld nodig het.”
Hoekom is volhoubaarheid van klere so belangrik?
“Met my navorsing het ek gelees dat klere een van die grootste besoedelaars op aarde is. ‘Thrift’ winkels het juis oorsee begin om te help om besoedeling te verminder, want klere is nie juis iets wat maklik disintegreer nie. Ons wil graag iets doen om die aarde te help.”
Rochelle vertel voorts dat baie mense mooi na hulle klere kyk terwyl ander daaruit groei en dit eintlik niks makeer nie.
“Alles wat ons koop is van ’n goeie kwaliteit, dis amper so nuut soos in die winkel. Jy sal nie sommer iets hier kry wat stukkend is nie, en as daar is, is dit in ’n aparte hopie teen ’n aparte prys.”
En as jy wil ontslae raak van jou trou- of aandrok, is hierdie net die plek.
“Dit is ’n afdeling waarmee ons nou mee wil begin. Almal weet jy koop ’n trourok ten duurste aan en dan dra jy dit net een aand en daarna gaar dit net stof in jou kas op terwyl jy hoop jou dogter sal dit dalk eendag na haar eie troue dra. Maar teen daai tyd is dit heeltemal uit styl uit, of julle het nie dieselfde liggaamsbou nie. ’n Aandrok of ’n matriefafskeidrok is nog iets wat jy waarskynlik net een keer gaan dra. So, ons sal dit graag by jou koop. Ons het ook ’n afdeling om dit uit te verhuur, so jy kan gerus ’n aandrok of ’n matriekafskeidrok hier kom huur teen ’n billike prys. So dis nie iets wat jy teen duurste hoef aan te koop en nou hang dit net in jou kas nie.”
Op hierdie stadium soek hulle veral mansklere. “Maar vir die res, so vinnig soos wat dit inkom, so gaan dit weer uit,” sê sy.
Re-Tag It Thrift Shop is by eenheid 58 Hyper Motor City in die suidelike nywerheidsgebied geleë, of kontak hulle by 081 223 8003, of besoek https://www.facebook.com/ReTagItThriftShopWindhoek