Akademia, VivA werk saam vir Afrikaans
Akademia en die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het gister tydens ’n geleentheid in Centurion aangekondig dat dié twee instellings voortaan in ’n dinamiese samewerkingsooreenkoms met mekaar sal tree ten einde die hoëordefunksies van Afrikaans te bevorder.Luidens die ooreenkoms sal VivA as onafhanklike kontrakteur by die nuutgestigte Taalsentrum van Akademia aansluit ter ondersteuning van verskeie projekte en aktiwiteite. Laasgenoemde sluit onder meer in die bevordering van navorsing in Afrikaans, betrokkenheid by programontwikkeling, internskapgeleenthede en taalpraktykgerigte kortkursusse. Die aanbied van nasionale en internasionale konferensies word ook in die vooruitsig gestel namate die ooreenkoms verder ontwikkel.
Volgens dr. Alé Steyn, die departementshoof van Tale en Kultuurwetenskappe en Taalsentrum-koördineerder by Akademia, sal die vennootskap geleenthede vir albei partye skep om Afrikaans op verskeie wyses te bevorder. Sy verduidelik voorts dat die ooreenkoms ook direk spreek tot die instelling se bestaansrede as ’n Afrikaanse hoëronderwysinstelling – nie net in die Suid-Afrikaanse konteks nie, maar ook op die internasionale verhoog.
Volgens Marlie Coetzee, die uitvoerende direkteur van VivA, is die bevordering van Afrikaans, op welke terrein, nie ʼn taak wat alleen aangepak kan word nie en daarom werk VivA graag mee met ander organisasies wat hulle beywer vir die voortgesette ontwikkeling van Afrikaans.
‘Taalviering’
Op sy beurt meen Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, dat die samewerking met VivA nie net ’n taalviering verteenwoordig nie, maar ook ’n opwindende voortsetting is van Akademia se verbondenheid tot die Afrikaanse universiteitswese. Hy het gesê die aankondiging is nóg ’n hoogtepunt op die instelling se jaarkalender en dat dit getuienis lewer van die groei wat Akademia binne die milieu van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe beleef.
Die Taalsentrum, wat vroeër vanjaar op ’n luisterryke wyse tydens die bekendstelling van die instelling se nuwe BA (Taalstudies)-program in Centurion aangekondig is, het dit ten doel om Afrikaans as akademiese, algemene én vreemde taal uit te bou.
Hierbenewens is die sentrum, wat in die Fakulteit Geesteswetenskappe se Departement Tale en Kultuurwetenskappe gesetel is, ook gemoeid met die uitbou van die akademiese taalvaardigheid van Akademia-studente tot op die hoogste vlak. Laasgenoemde rus studente toe om hul studies en beroepe in die werksplek met groot sukses te kan voltooi en beoefen.
VivA is ’n gevestigde navorsingsinstituut en diensverskaffer vir Afrikaans in digitale kontekste. Sy hoofdoelstelling is om die gebruik asook die gehalte van Afrikaans uit te bou deur die beskrywing en bestudering van die taal in sy volle omvang; die ontwikkeling van omvattende digitale en ander hulpbronne, hulpmiddele en platforms vir geskrewe Afrikaans; sowel as die lewering van praktiese Afrikaanse taaldienste deur middel van tegnologie.