Stellantis lig die sluier oor vyf nuwe modelle

Dirk Gallowitz
Die Stellantis motorkonglomeraat is deesdae die tuiste van 14 verskillende fabrikate wat elk steeds hul eie ontwerpe en identiteite najaag. Stellantis is tans die derde grootste motorvervaardiger in die wêreld en is omtrent aan die woel met vernuwing en verbetering oor die hele spektrum van hul bedrywighede.
In Suid-Afrika word agt fabrikate bemark naamlik Abarth, Alfa, Citroën DS wat ’n luukser model was maar deesdae ’n outonome handelsmerk is, Fiat, Jeep, Opel en Peugeot. Teoreties is Maserati die negende een, maar Maserati word nie tans in SA onder die Stellantis vaandel bestuur nie.
Mike Whitfield, Stellantis SA se uitvoerende hoof is opgewonde oor die handelsmerk se toekoms en het tydens die onthulling gesê: “Deur die handelaarsnetwerk te konsolideer sal ons ’n beter en meer omvattende diens aan al ons kliënte oor die verskillende handelsmerkidentiteite kan lewer.
“Om dit verder te verbeter, het ons ook die onderdelebedryf onder ’n enkele dak saamgesnoer en het tans meer as R450 miljoen se onderdelevoorraad. Ons is baie trots daarop dat ons oor 95% van onderdele beskik, vir die eerste keer van die handelaar na die kliënt.
“Die fabriek is ’n volledige produksie-aanleg, nie bloot ’n SKD-monteeroperasie nie en die enigste element wat ons sal uitkontrakteer, is die metaalsjabloon, aangesien daar reeds 'n fasiliteit in die omgewing is.”
Plaaslik gaan Stellantis vanjaar vyf nuwe modelle van die agt handelsmerke onder hul vaandel vrystel. Die ondergenoemde modelle is almal tydens ’n spesiale geleentheid by Gerotek aan die media onthul en ons was daar.
Fiat 500
Die gewilde Fiat 500 buksie is een van die voertuie waarvan opgedateerde modelle vanjaar plaaslik bekendgestel gaan word.
Die buksie word nou met ’n battery-elektriese aandrywing toegerus. ’n Nuutontwerpte vooraansig met hoofligte wat lyk asof dit “wimpers” het is van die meer opvallende vernuwing.
Binne is die kajuit vernuwe met ’n herontwerpte voorpaneel wat onder andere ’n groter raakskerm insluit vir die ritinligting, klank/vermaak stelsel en kommunikasiestelsels.
Stellantis het bevestig dat die afslaankap modelle later na Suid-Afrika sal kom.
Abarth
Abarth is ’n aparte handelsmerk van Fiat en is veral bekend vir hul ikoniese verrigtingsmodelle.
Plaaslik is Abarth gekenmerk met hul Fiat 500-gebaseerde modelle wat ’n hele paar jaar gelede plaaslik bekendgestel was. Die uwe was daar en kon die vlamgat Ferrari geïnspireerde 595 model behoorlik rondom Zwartkops looi.
By die Gerotek geleentheid is die nuwe Abarth vertoon wat later vanjaar bekendgestel gaan word.
Die witwarm twee-deur buksie word nou gekenmerk met sy bekende “Skerpioen”-logo wat op die wiele en prominent op die sykante vertoon word.
Die groot verrassing is dat die nuwe Abarth nou slegs as ’n outomatiese battery-elektriese voertuig beskikbaar gaan wees.
Buite is die voorkoms, veral die neus, varser gestileer met die binnekant mooier, skoner maar steeds sportief en modern afgewerk en toegerus met meer elektronika. Volgens Stellantis gaan verrigting beter wees as die vorige petrolaangedrewe modelle.
Pryse sal nader aan die plaaslike bekendstelling bekend gemaak word.
Jeep Wrangler
Die sluier is ook gelig oor ’n nuwe Jeep Wrangler en die groot verrassing is dat die nuweling nie met die bekende 6-silinder normaal geäspireerde 3,6 liter Pentastar petrolenjin aangedryf gaan word nie, maar met ’n geheel nuwe 2.0 liter vierslinder turbo-aangedrewe petrolenjin.
Hoewel Stellantis nie uitgebrei het oor die enjin se kraglewering nie is daar wel genoem dat Jeep aanhangers dieselfde kraglewering kan verwag as wat die 3,6 liter enjin lewer, maar met meer wringkrag.
Nog goeie nuus vir Jeep-aanhangers is dat die enjin ’n beduidend laer brandstofverbruik gaan bied met ’n syfer van 8,5 l / 100km wat verwag kan word. Stilering buite is mooier en die kajuit is ook vernuwe met ondermeer ‘n groot info-raakskerm wat bygevoeg word.
Die Jeep se legendariese 4-trek stelsel is egter steeds daar.
Opel Corsa
Die opgedateerde Corsa reeks is ook vir later vanjaar op die kaarte vir plaaslike kopers. Dieselfde 96 kW enjin en aandrywingstelsel van die huidige model gaan diensdoen in die 2024 modelle. Vernuwing en verbetering is in die kajuit hoofsaaklik met die elektroniese-,vermaak- en veiligheidstelsels wat aandag gekry het, maar daar is ook verfyning gedoen aan die stilering buite.
Peugeot Landtrek
Met die bekendstelling ’n paar jaar gelede van die Peugeot Landtrek, is net ’n luukse dubbelkajuit weergawe bekendgestel. Op daardie stadium wou Stellantis eers die kat uit die boom kyk om te sien of die Landtrek wat in China gebou word, aftrek gaan kry onder plaaslike kopers alvorens ander weergawes plaaslik beskikbaar gemaak sal word.
Dit blyk nou dat die bakkie wesenlik aftrek kry plaaslik en daarom gaan ’n enkelkajuit werkesel bakkie later vanjaar beskikbaar gemaak word. Die enkelkajuit werkesel sal slegs beskikbaar wees met ’n 1.9 liter turbodiesel enjin wat 110 kW lewer en gekoppel is aan ’n handratkas wat krag na die agterwiele stuur, en sal met ’n kompeterende prys aan kopers voorgehou word.
Ons het die geleentheid gehad om die model op die dinamiese baan by Gerotek te toets en was nogal beïndruk.
Dit is ’n welkome en broodnodige model in die Landtrek stal en behoort goed te verkoop.
Die Landtrek modelle gaan plaaslik gebou word in die nuwe R4-miljard aanleg wat Stellantis tans besig is om by Koega in die Ooskaap te ontwikkel. Daar word verwag dat 50 000 eenhede per jaar daar geproduseer gaan word waarvan meeste vir uitvoer bestem is.
Die aanleg is bestem om in 2026 te begin produseer.