Olifante se reuksin verbaas
Urine en mis soos ‘olifant posbusse’
Afrika olifante deel ’n sogenaamde “trop-reuk” wat dit vir hulle maklik maak om lede van hul eie trop te herken. Dié het meer te doen met die bakterie wat hulle aan mekaar afvee gedurende hul rituele groetsesssies as die feit dat hulle dalk verwant mag wees.Hierdie olifante is ook besonders goed daarmee om ’n mens se spoor te volg, sê bewaringskundige dr Katharina von Dürckheim van die Universiteit Stellenbosch (US).
Sy het in Desember 2021 haar PhD in bewaringsekologie oor die onderwerp aan die US verwerf. Sy lei nou die nuwe Wildlife Free to Roam (WFR) navorsingsprogram aan die US. Daardeur word gefokus op die skep van verbindingsroetes wat wild sal toelaat om makliker te beweeg tussen talle groot oorgrens-bewaringsgebiede in Suider-Afrika.
‘Olifant posbusse’
“Olifante laat urine en mis langs die roetes wat hulle volg. Dié is as’t ware kommunikasie-spilpunte of ‘olifant posbusse’. Dit bevat reuk-boodskappe wat ander olifante toelaat om te monitor watter ander olifante in die omgewing is, en moontlik gereed is om te paar,” verduidelik Von Dürckheim.
“Wanneer daar ’n kol urine op die grond is sal ’n olifant eers op daardie sandkol blaas en ’n soort stofstorm van partikels veroorsaak. Daarna asem die dier dit diep in deur sy slurp, en voer soms partikels na die Jacobson’s orgaan in die bokant van die mond, in wat ons ’n flehmen-reaksie noem.”
Haar PhD-tesis het die amptelike titel van “Olfaction and scent discrimination in African elephants (Loxodonta africana)” gedra.
Wat die amptelike titel egter nie verklap nie, is dat hierdie ma van twee en ’n MBA-gegradueerde daarby gedurende die loop van haar studies die kans gehad het om deel te wees van ’n groot verskuiwingsoperasie van 120 olifante in Malawi. Sy het ook saamgewerk met deskundiges van die Amerikaanse Leër wat die vermoë van wilde diere om landmyne te bespeur bestudeer het, en daarom ook olifante se besonderse reuksin ondersoek het.
Dit was die uiters geritualiseerde manier waarop Afrika-olifante mekaar groet – iets wat Von Dürckheim oor die jare al dikwels die voorreg gehad het om waar te neem – wat haar aangetrek het tot haar PhD-onderwerp.
“Afrika olifante het hierdie fassinerende, rituele groet-seremonie wanneer hulle bymekaar kom. Selfs mak olifante doen dit steeds. Hulle urineer, ontlas, skei vloeistof van hul temporale kliere af, brom, trompetter, draai in die rondte en flap hulle ore om ’n soort ‘pagiderm-parfuum’ te versprei. Dis iets wat my herinner aan hoe skoenlappers en motte hul vlerke waai om feromone te versprei.”
Chemiese boodskappe
Gegewe haar onderwerp was haar PhD werklik ’n reuse-taak, maar tog het sy daarin geslaag om oor jare heen baanbreker-navorsing te doen. Sy het vir die eerste keer in diepte gekyk na die chemie agter die afskeidings van die genitalieë en speeksel- en temporale kliere van vrylopende Afrika olifantkoeie. Laasgenoemde veroorsaak die tipiese “tranerige oë” van ’n Afrika olifantkoei – iets wat selde by Asiese olifantkoeie gesien word.
Haar navorsing toon dat Afrika olifante deur aan urine en mis te snuif kan onderskei tussen onbekende en bekende lede van hul spesie. Hulle kan ook tussen individuele olifante onderskei op grond van die “reuk” wat afgeskei word deur die temporale en speekselkliere, en genitalieë.