Opwindende vooruitgang in humanoïde robotika by US
Die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) dryf vooruitgang in humanoïde (mensagtige) robotika met die bekendstelling van ’n splinternuwe navorsingsplatform. Hierdie gevorderde platform beklemtoon revolusionêre robottegnologie en demonstreer die krag van interdissiplinêre samewerking binne ingenieurswese.Die robot staan tans mens-hoogte en beskik oor ’n funksionele bolyf en ’n ten volle funksionele regterarm en -hand, terwyl sy linkerarm byna voltooi is. Om sy mensagtige vermoëns te verbeter, is die robot toegerus met ’n webkamera vir sig-ontleding, gekoppel aan gevorderde sagteware wat die robot in staat stel om menslike bewegings intyds te ontleed en na te boots.
Dr William Duckitt, ’n dosent in die Departement vertel dat hulle stelsel omgekeerde kinematika (menslike beweging) kan uitvoer, wat dit in staat stel om die bewegings van ’n mens wat dit beheer akkuraat te volg. Hy sê dat die platform teoreties van enige plek in die wêreld beheer kan word wat die potensiaal vir afstandsbeheer beklemtoon.
Die platform is gebou met die EtherCAT-kommunikasieprotokol en ondersteun beide sinchroniese en asinchroniese prosesse. Die ontwerp stel hulle in staat om komplekse take maklik aan te pak, met behulp van tegnologie wat Duckitt in beheerstelsels vir partikelversnelling gebruik het.
Innoverende projek
Ter erkenning van die toekomstige potensiaal van humanoïde robotika, betrek die Departement aktief sy studente by innoverende projekte. Verskeie huidige finalejaarsprojekte, wat fokus op die ontwerp en ontwikkeling van pasgemaakte aktuators (aanskakelaars), gevorderde robot-hande, en humanoïde arms met knypers, wat aan studente belangrike praktiese ervaring bied. Duckitt noem hulle streef daarna om ’n nuwe generasie navorsers te kweek wat na meestersprogramme sal oorskakel en hul bydraes tot hierdie veld sal verdiep.
Met die oog op die toekoms, sal die volgende fase van navorsing fokus op die ontwikkeling van aktuators vir die robot se bene, met die doel dat die robot tweevoetig sal loop. Hierdie vordering verteenwoordig ’n belangrike stap in die rigting van ’n volledig mobiele humanoïde robot wat realistiese menslike bewegings en interaksie kan naboots.
Verder werk ’n meestersgraadstudent tans aan virtuele robotika-simulasies met behulp van NVIDIA se IsaacSim-platform. Hierdie navorsing fokus op die verwesenliking van simulasie-tot-werklikheid-oordrag, ’n tegniek wat aanvanklik op die prototipe van die robot-arm toegepas sal word en uiteindelik sal help om die funksionaliteit van die hele humanoïde platform te verfyn.
Duckitt sluit af deur te sê dat hulle reis in humanoïde robotika hulle ingenieurskundigheid kombineer met ’n akademiese ambisie om die grense van wat moontlik is, te verskuif. Hulle is opgewonde en trots om hulle vooruitgang te deel terwyl die veld van humanoïde robotika bevorder word.
Kyk die video hier: https://www.youtube.com/watch?v=7xmACc6O3e8