Vakkeuses in die kollig

Vakkeuses in graad 9 hoef nie vreesaanjaend te wees nie!
Om te help, bied Akademia vanjaar weer ’n vakkeuse-aand op Woensdag 4 Mei vanaf 18:30 tot 20:00 aan om skoliere met die nodige kennis toe te rus oor die belangrikheid van vakkeuses.
Die sessie word aanlyn aangebied wat beteken dat jy en jou gesin vanuit die gemak van jul eie huis hierdie spesiale geleentheid kan bywoon.
Die propvol program sluit gesprekke in oor watter vakke benodig word vir toelating tot sekere studierigtings en hoe om persoonlikheid-, aanleg- en belangstellingstoetse in ag te neem om hierdie belangrike besluite te kan neem.
Daar sal ook geleentheid wees vir skoliere en ouers om vrae aan die einde van die sessie te vra wat deur die paneel van kundiges beantwoord sal word om sodoende enige laaste onsekerhede uit die weg te ruim. As ekstra toegevoegde waarde, kry elke skolier wat die aand bywoon ook ʼn digitale vakkeusebegeleidingsgids.
Akademia se projekkoördineerder van die skolemark, Juanmarie Pretorius, noem dat Akademia as akademiese instelling die erns van die besluit van vakkeuses verstaan. “Hierdie keuse het ’n direkte invloed op ’n skolier se toekomstige studiemoontlikhede en dus selfs sy loopbaanopsies. Jou keuse van vakke kan baie deure oopmaak, maar kan dit jou ook om elke hoek en draai fnuik.”
Omdat Akademia in diens van die gemeenskap wil optree en waarde wil toevoeg tot die lewens van alle skoliere, het hul besluit om ’n vakkeuse-aand aan te bied.
“Graad 9-leerders en hul ouers het ondersteuning nodig en moet toegerus word met die nodige kennis om groot besluite met sekerheid te kan maak. Dit is ’n bekostigbare en waardevolle manier om leerders en ouers met die daardie kennis toe te rus,” sê Pretorius.
Die volgende uitgesoekte kundiges het jare se ondervinding in hul spesialisvelde en gaan skoliere tydens die vakkeuse-aand toespreek:
• Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die Skoleondersteuningsentrum
• Prof. Gawie du Toit, dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia
• Pieter Jordaan, beroepsvoorligter en eienaar van Futuresmart
“Indien jy die eerste stap in die regte rigting wil neem om jou toekomsdrome ’n kans op realiteit te gee, is die vakkeuse-aand ’n moet. Die aand sal jou help om ’n ingeligte en weldeurdagte besluit te kan maak ten opsigte van watter vakke om te neem en watter geleenthede dit in die toekoms sal ontsluit,” sluit Pretorius af.
Indien jy onseker is oor jou of jou kind se vakkeuses, maak seker dat jy hierdie waardevolle sessie bywoon. Registrasies is reeds oop en die koste beloop N$50 per gesin. Waarvoor wag jy? Besoek https://akademia.ac.za/vakkeuse-aand/ om om jou virtuele sitplek te bespreek.