Namibië bou nie genoeg kragstasies

Ogone Tlhage
Namibië maak nie noemenswaardige vordering met die ontwikkeling van sy eie kragstasies om die land in staat te stel om elektrisiteit plaaslik te voorsien nie, sou die kragopwekking in die Suider-Afrikaanse Kragpoel (SAPP) onbestendig raak, sê die Instituut vir Openbare Beleidsnavorsing (IPPR).
Dit kom te midde van die probleme met kragvoorsiening wat tans in Suid-Afrika ondervind word, waarop Namibië vir ’n groot hoeveelheid van sy elektrisiteit staatmaak; en verminderde reënval oor die afgelope tien jaar in die Kunenerivier-opvangsgebied, het ’n IPPR verslag gesê.
“Die Ruacana-kragstasie het die laagste kragvoorsiening – wat vir die afgelope tien jaar opgewek is (780 GWh) – aangeteken weens die verminderde reënval in die Kunenerivier-opvangsgebied. Dit het daartoe gelei dat NamPower elektrisiteit teen ’n hoë koste moes invoer om deurlopende toevoer te verseker. NamPower identifiseer klimaatsverandering as ’n sleutelrisiko.”
Ruacana onderpresteer
Namibië se afhanklikheid van die invoer van elektrisiteit het ook NamPower se finansiële gesondheid en vermoë om kontant in die toekoms te genereer, beïnvloed.
“Bedryfswinsgewendheid het ook verswak in vergelyking met die vorige boekjaar, met NamPower wat ’n verlies van meer as N$2 miljard op beide groeps- en maatskappyvlak getoon het. Vir die eerste keer in jare het selfs verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie afgeneem wat ’n ernstige leemte op die groep se prestasietelkaart gelos het. NamPower het ’n bedryfsverlies voor netto finansiële inkomste van N$2,3 miljard aangeteken,” lui hul jaarverslag vir 2022.
Verskaffingsvennote onder druk
NamPower se sleutelverskaffers in Suid-Afrika (Eskom) en Zambië (Zesco), het hul eie beduidende probleme.
“Namibië is lank reeds ’n netto-invoerder van elektrisiteit uit die Suider-Afrikaanse Kragpoel en het oor die dekades gesukkel om nuwe plaaslike opwekkingsvermoë te bou en meer onafhanklik te word,” lui die verslag.
Terwyl Namibië vordering gemaak het om plaaslik in sy energiebehoeftes te voorsien deur middel van sy hernubare energie-invoertariefprogram (Refit), het Namibië meer as 70% van die krag ingevoer wat benodig word namate kragtoevoer vanaf die Ruacana-hidro-elektriese kragstasie afgeneem het. Hierdie ingevoerde krag is hoofsaaklik deur Suid-Afrika en Zambië verskaf. Albei lande het hul eie plaaslike kragtekorte wat waarskynlik nie in die nabye toekoms opgelos sal word nie,” het die IPPR gesê.
“Terwyl Namibië vordering maak met die bou van nuwe opwekkingsvermoë, is die vordering nie so vinnig soos wat dit moet wees nie en sal dit onvoldoende wees om die invoer van elektrisiteit heeltemal te vervang. Hierdie bedenklike situasie sal waarskynlik nog etlike jare duur.”